Nuus 06:00
BULLETIN 8 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van samewerkende regering
# NERSA skeduleer openbare verhore oor die voorgestelde Eskom-prysverhoging
# En president Biden beloof ‘n ordelike regeringsoordrag
# President Cyril Ramaphosa sê inklusiewe ekonomiese groei wat werk skep en mense se lewens verbeter, is die regering van nasionale eenheid se belangrikste prioriteit. Hy het gister ’n vergadering tussen die nasionale uitvoerende gesag en die KwaZulu-Natalse provinsiale uitvoerende raad in eThekwini toegespreek. Dit is deel van ‘n nuwe reeks kommunikasie-aksies tussen die president en provinsies om interregeringskoördinasie te verbeter. Ramaphosa sê samewerkende regering word deur die Grondwet bepaal:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika hou vanaf 18 November tot 4 Desember openbare verhore oor Eskom se Sesde Meerjarige Prysbepalingsaansoek. Eskom het 446-miljard-rand vir 2025/2026 versoek, wat teen 2027/2028 tot 537-miljard-rand verhoog word. Nersa sê in ‘n verklaring die primêre energie-uitgawes, bedryfsuitgawes, en onafhanklike kragverskaffers is die belangrikste aspekte van die voorstel. Belanghebbers kan teen 8 November aansoek doen om die verhore by te woon. Nersa se besluit word op 20 Desember vanjaar verwag.
# Die DA se woordvoerder vir Water en Sanitasie in Gauteng, Stephen Moore, het kommer uitgespreek oor die voortdurende wateronderbrekings wat miljoene inwoners van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni raak. Moore sê ‘n tegniese fout by Rand Water se Palmiet-pompstasie, het Gauteng se brose waterinfrastruktuur blootgelê en die gemeenskappe se kwesbaarheid onthul. Hy het Rand Water en munisipaliteite versoek om deursigtigheid en infrastruktuur-veerkragtigheid voorop te stel om toekomstige krisisse te voorkom:
# President Joe Biden sê die Amerikaanse volk verdien ‘n vreedsame en ordelike regeringsoordrag na president Donald Trump se verkiesingsoorwinning. Hy het die land toegespreek vanuit die Roostuin by die Withuis, waar hy vise-president Kamala Harris geprys het vir haar ware karakter. Die toespraak kom nadat Harris Woensdag toegegee het sy het verloor. Biden sê hy hoop Trump se herverkiesing sal die twyfel uit die weg ruim oor die regverdigheid van Amerikaanse verkiesings:
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, sê toetse teen die All Blacks is altyd ekstra spesiaal en vanaand se kragmeting in Dublin gaan nie oor wraak vir verlede jaar se nederlaag teen Nieu-Seeland in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi nie. Hy beskryf die Kiwi’s as een van die beste spanne in die wêreld en sê dit is genoeg motivering. Ierland, wat tans boaan die wêreldranglys is, mik na hulle 20ste agtereenvolgende oorwinning in die Aviva-stadion. Farrell sê Nieu-Seeland is altyd dié span om te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-17-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-705-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Keniaanse hof het ‘n saak verwerp wat die regering se omkeer van ‘n verbod op geneties-gemodifiseerde gewasse uitdaag, wat dit effektief moontlik maak om dit openlik te verbou. Die Oos-Afrika-land het ‘n dekade lange verbod op geneties-gemodifiseerde gewasse in Oktober 2022 opgehef, maar die besluit is die onderwerp van hofgedinge en protes deur verbruikers- en biodiversiteitsgroepe. Gister se uitspraak is die tweede keer dat die Hooggeregshof ‘n saak verwerp wat daarop gemik is om geneties-gemodifiseerde gewasse te verbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….