Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra gesondheids- en veiligheidsprotokolle vir spaza-winkels te midde van siektedraende voedsel
# Rugby: Damian McKenzie dra die nommer 10-trui vir die All Blacks teen Ierland
# En president Ramaphosa onthul koning Shaka se standbeeld op ‘n lughawe in KwaZulu-Natal
# Die ANC vra strenger protokolle vir gesondheid en veiligheid vir spaza-winkels nadat kinders siek geraak het van besmette kos. Die party werk saam met wetstoepassing, plaaslike ondernemings en ander rolspelers om strenger regulasies vir ondernemings soos spaza-winkels bekend te stel, en openbare gesondheid eerste te stel. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die party volg die ondersoeke na hierdie voorvalle aandagtig:
# ‘n Tweede persoon is aangekeer in verband met die bedrogsaak van 1,2-miljoen-rand van die verkiesingkommissaris, Nomsa Masuku. Masuku het vandag in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Palm Ridge in Gauteng verskyn saam met ʼn medebeskuldigde wat pas in hegtenis geneem is, Mark Philip Roux. Die saak behels bewerings van geld wat verduister is en onreëlmatige beurse tydens Masuku se termyn by die Korporatiewe Maatskaplike Beleggingsprogram van Standard Bank. Albei beskuldigdes is uit op borgtog van 20-duisend-rand. Die saak hervat in Februarie volgende jaar.
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Departement van Justisie ondervra oor kritieke aspekte wat deur die Ouditeur-Generaal geopper is. Dit sluit in agterstande met sake, agterstande met IT en hofgeriewe wat swak onderhou word. Die adjunkminister van Justisie, Andries Nel, erken hierdie probleme en die uitwerking op geregtigheid, asook die byhou van rekords met die hand. Ten spyte van ‘n ongekwalifiseerde oudit het die departement sedert 2020 nie ‘n onberispelike prestasieverslag ontvang nie. Basiese herstelwerk aan infrastruktuur word vertraag deur die Departement van Openbare Werke, wat die doeltreffendheid van howe verder beïnvloed.
# Rugby: Damian McKenzie dra môreaand die All Blacks se nommer 10-trui teen Ierland in Dublin en Asafo Aumua begin op haker. Hulle vervang vir Beauden Barrett en Cody Taylor, wat albei harsingskudding opgedoen het. Hierdie beserings-gedwonge veranderings is die enigste wat hoofafrigter Scott Robertson aan die span aangebring het wat verlede naweek op Twickenham naelskraap met Engeland afgereken het. Dit is die eerste wedstryd tussen die twee lande sedert Nieu-Seeland Ierland verlede jaar in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-707-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-687-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-23-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het koning Shaka Zulu geloof as ‘n simbool van eenheid en leierskap. Hy het die nuut-onthulde standbeeld op die King Shaka Internasionale Lughawe in KwaZulu-Natal as ‘n geskiedkundige oomblik vir die Zoeloe-mense en alle Suid-Afrikaners beskryf. Volgens Ramaphosa is die standbeeld ‘n huldeblyk aan Shaka se nalatenskap wat nasionale eenheid bevorder en dien as ‘n blywende herinnering aan die krag en veerkragtigheid wat nasies bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….