Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp Helen Zille se vals aansprake oor die regering van nasionale eenheid
# Die EFF sê die Amerikaanse politiek bied geen lesse vir Afrika of die globale Suide nie
# En, krieket: Suid-Afrika en Indië pak mekaar môre in die eerste T20 op Kingsmead
# Die ANC het die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, daarvan beskuldig dat sy probeer om sy leierskap te ondermyn deur ongegronde en misleidende aansprake. Die party het Zille se aansprake oor hul betrokkenheid by die vorming van die regering van nasionale eenheid as vals en misleidend afgemaak. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het op ‘n nuuskonferensie Zille se voortdurende aanvalle op president Cyril Ramaphosa veroordeel en dit bestempel as ‘n desperate poging vir mag:
# ‘n Arbeidsregskenner, Michael Bagraim, sê die regering kan nie ‘n salarisverhoging van meer as drie-persent vir staatamptenare bekostig nie. Hy sê die regering het ‘n eis van ses-persent verwerp wat in die Staatsdiens-koördinerende Bedingingsraad gerig is vir die 1,3-miljoen staatsamptenare. Bagraim sê die Staatsdiens se salarisonderhandelings is nog in ‘n vroeë stadium, en geen finale besluite is nog geneem nie:
# Die EFF sê Amerikaanse politiek bied geen waardevolle lesse vir Afrika of die globale Suide nie. Die party het Amerika se politieke stelsel gekritiseer en aangevoer dit is uiters gebrekkig en word deur elite-belange aangedryf, sonder werklike oplossings vir ontwikkelende nasies. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê Afrikalande moenie na die VSA kyk vir leiding nie, maar eerder fokus op hul eie ontwikkelingsroetes:
# Krieket: Suid-Afrika en Indië pak mekaar môre in die eerste van vier T20’s op Kingsmead in Durban. Dit sal ‘n herhaling wees van die Wêreldbeker-eindstryd vier maande gelede toe Indië met ‘n skamele sewe lopies gewen het. Die Proteas is sonder hulle drie beste boulers in die toernooi, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi, en Indië toer sonder die meeste van sy voorste spelers, wat gereedmaak vir ‘n toetsreeks teen Australië. Die ander T20’s word gespeel in Gqeberha, Centurion en Johannesburg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-33-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-676-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Verslag deur wetenskaplikes van die Europese Unie se Copernicus-klimaatsveranderingsdiens dui aan 2024 sal heel waarskynlik 2023 oortref as die warmste jaar wêreldwyd. Volgens Reuters oorskry die planeet se temperatuur nou die voor-nywerheidsgemiddeld met meer as 1,5-grade Celsius, wat ‘n kritieke mylpaal is. Fossielbrandstowwe se koolstofuitstralings is steeds die grootste aandrywer van stygende temperature. Die wetenskaplikes dring aan op versnelde klimaataksie te midde van die toenemende uiterste weersomstandighede. COP29 vind vanaf 11 tot 22 November in Baku, Azerbeidjan, plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….