Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vrystaatse LUR vir Onderwys vra ‘n nasionale rampverklaring oor voedselvergiftigingsvoorvalle
# ‘n Ekonoom glo Trump se oorwinning sal die debat oor BRICS en globale geldeenheidsneigings beïnvloed
# En, rugby: Jean Kleyn sluit aan by die Bokke terwyl Ruan Nortjé huiswaarts keer weens ‘n besering
# De Vrystaatse LUR vir Onderwys, Mamiki Maboya, versoek die regering om voorvalle van voedselvergiftiging tot ‘n nasionale ramptoestand te verklaar. Dit volg na berigte van meer as 40 leerders wat gister in die hospitaal opgeneem is nadat hulle besmette snoeperye geëet het. Maboya het teenoor Newzroom Afrika bevestig die Vrystaatse Gesondheidsdepartement ondersoek die voorval in Welkom. Sy benadruk ook die noodsaaklikheid van ʼn strenger benadering om voedselvergiftiging te voorkom:
# AgriSA is gekant teen Eskom se voorgestelde tariefverhogings en waarsku dit kan ernstige gevolge inhou vir voedselsekerheid en landbouvolhoubaarheid. Die organisasie voer aan hoër elektrisiteitskoste sal boere se bedryfsuitgawes aansienlik verhoog, aangesien hulle staatmaak op energie vir noodsaaklikhede soos besproeiing, verwerking en berging. Kulani Siweya van AgriSA waarsku indien die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika hierdie tariefverhogings goedkeur, sal die koste ‘n ripmel-effek op die voedselvoorsieningsketting hê en dit kan potensiële prysstygings en verminderde winsgewendheid veroorsaak.
# Politieke partye het kommer uitgespreek oor die reddingsboeie vir staatsondernemings. Hulle is tydens ‘n debat in die Parlement beskryf as finansiële sinkgate wat geld wegneem van dienste soos onderwys, gesondheid en die polisie. Partye soos die DA, die Vryheidsfront Plus en die Inkatha Vryheidsparty stem saam te veel van hulle is ondoeltreffend en werk teen ‘n verlies. Virgill Gericke van die EFF sê die instellings word nie behoorlik bestuur nie:
# ʼn Ekonoom aan die Stellenbosse Sakeskool, André Roux, sê die aangewese Amerikaanse president, Donald Trump, se oorwinning sal moontlik weer globale gesprekke aanvuur oor die rol van die Amerikaanse dollar en die opkoms van die BRICS-groepering. Roux glo Trump sal hom beywer vir die oorheersing van die Amerikaanse dollar as die sleueteleenheid in die wêreld, ʼn standpunt wat BRICS-lande moontlik sal aanspoor om alternatiewes te oorweeg:
# Rugby: Die Wêreldbeker-wenner, die slot Jean Kleyn, sluit in Edinburgh by die Springbokke aan as plaasvervanger vir Ruan Nortjé, wat gister tydens oefening sy been beseer het. Die 31-jarge Kleyn, wat verlede jaar sy sewende toets vir die Springbokke in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland in Frankryk gespeel het, maak die eerste keer hierdie seisoen sy terugkeer na die nasionale span. Nortjé het beïndruk toe die Bokke vanjaar die Rugbykampioenskap ingepalm het. Afrigter Rassie Erasmus kondig sy wedstrydgroep vir die toets teen Skotland môre aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-728-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….