Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema is nie bekommerd oor Dali Mpofu wat by MK-party aansluit
# Die hawe van Maputo in Mosambiek staak die inname van vragte weens na-verkiesingsonrus
# En, motorsport: Valtteri Bottas en Zhou Guanyu gaan Sauber verlaat
# Die leier van die EFF, Julius Malema, is nie van stryk gebring deur die besluit van die nasionale voorsitter, Dali Mpofu, om by oudpresident Jacob Zuma se MK-party aan te sluit nie. Mpofu glo in die potensiaal van die MK-party om totale bevryding te bring. Malema het reageer op Mpofu se aankondiging op X en verwag nog senior mense gaan oorloop. Hy meen egter die EFF staan sterk en sal met die oog op die party se komende konferensie steeds sifting doen vir insypelaars.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels van 2022 sal na die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad verwys word vir raadpleging en oorweging. Woordvoerder Philip van Staden sê politieke partye het die afgelope paar maande druk op die ANC uitgeoefen om die wetsontwerp na Nedlac te verwys voordat die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid dit verder voer:
# Die Transnet Nasionale Hawe-owerheid vra belangstellendes om voorstelle in te dien vir ‘n loodsprojek om groener en skoner brandstof te gebruik vir sy diesel-aangedrewe sleepbootvloot. Die projek stem ooreen met sy moedermaatskappy Transnet se toewyding om Suid-Afrika se oorgangsreis na ‘n laekoolstof-ekonomie ‘n hupstoot te gee, gefokus op skoner, hernubare en groen brandstowwe. Phyllis Difeto van die owerheid sê planne om sy sleepbootvloot toe te rus met lae-tot-geen-koolstofbrandstof is ‘n belangrike stap na die ontkoling van verskeping en die verlaging van die koolstofvoetspoor van sy mariene vaartuie.
# Die hawe van Maputo in Mosambiek het opgehou om vrag te aanvaar weens na-verkiesingsverwante onrus. Onluste op die land se hoofgrens met Suid-Afrika, Lebombo, het gelei tot die gedeeltelike sluiting en honderde vragmotors met goedere soos steenkool is nou gestrand. Spanning het die hoogte ingeskiet ná verlede maand se bestrede verkiesingsuitslag, wat versetoptrede veroorsaak het. Amptenare moes noodgedwonge oorkant die grens na skuiling soek. Die tydelike sluiting van die hawe, wat ‘n groot uitvoerroete vir chroom is, kan die ekonomie beïnvloed.
# Motorsport: Die renjaers Valtteri Bottas van Finland en Zhou Guanyu van China verlaat die Formule Een-span Sauber die einde van die seisoen. Hulle was drie jaar saam. Die twee het dié seisoen gesukkel en geen punte aangeteken in 21 wedrenne nie. Sauber het bevestig dat die Formule Twee-kampioenskapsvoorloper, Gabriel Bortoleto, volgende seisoen by die span sal aansluit, saam met die Duitser Nico Hulkenberg. Die Brasiliaan het ‘n meerjarige kontrak onderteken. Bottas sê hy sien uit na wat die toekoms inhou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-956-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….