Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige munisipale finansiële hoof kan aangekeer word nadat hy versuim om op te daag vir ‘n VBS-verwante hofsaak
# Omgewingsgroepe versoek die Wes-Kaapse Hooggeregshof om TotalEnergies se olieboorplanne te keer
# En, padwedlope: Caster Semenya gaan haar Boxer Super Run-debuut maak
# Die Valke in Limpopo soek na die Fetakgomo-Groter Tubatse-munisipaliteit se voormalige finansiële hoof, Tumelo Ratau, nadat hy hierdie week twee keer versuim het om in die Hooggeregshof in Pretoria te verskyn in ‘n VBS Mutual Bank-saak. Ratau is in November 2021 aangekeer vir sy beweerde rol in die bemiddeling van 230-miljoen-rand se onwettige beleggings. Ratau se medebeskuldigde, die voormalige munisipale bestuurder Nkhono Mohlala, het intussen ‘n pleitooreenkoms bereik en ‘n opgeskorte vonnis van vyf-jaar ontvang. Mohlala is beveel om 100-duisend-rand aan VBS se likwidateurs terug te betaal.
# Omgewings- en gemeenskapsgroepe, insluitend die Green Connection, Aukotowa Fisheries en Natural Justice, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevra om TotalEnergies se planne te keer om langs die Weskus vir olie te boor. Hulle is van mening die regering het met die goedkeuring van die projekte nie ag geslaan op die gevaar vir die marienelewe, kusgemeenskappe en die omgewing nie. ‘n Woordvoerder van Green Connection, Lisa Makaula, glo die goedkeuringsproses was onbillik en vra meer volhoubare energie-oplossings:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê hulle maak vordering met hulle 100-dae-doelwit om finansiële bestendigheid te bereik. Die mikpunt is om teen einde Januarie minstens vier-miljard-rand per maand in te vorder. Die burgemeester se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê hulle het verlede maand 3,68-miljard-rand ingevorder, wat vier-persent meer is as die mediumtermyn-teiken. Mahlati sê dis ook meer as die gemiddelde inkomste van 3,5-miljard-rand oor die vorige drie maande:
# Die belangrikste opposisieleier in Mosambiek, Venâncio Mondlane, sê die land het ‘n sleuteloomblik bereik. Hy het met AFP gepraat voor ‘n betoging wat hy vir later vandag uitgeroep het. Volgens Mondlane heers daar ʼn rewolusionêre atmosfeer wat bewys Mosambiek is op die punt van ʼn unieke geskiedkundige en politieke oorgang. Hy is tans in die buiteland en sê hy kan weens veiligheidsoorwegings nie aan die optog deelneem nie.
# Padwedlope: Die Olimpiese gouemedaljewenner, Caster Semenya, maak Sondag haar Boxer Super Run-debuut in Tshwane. Haar grootste mededinger sal Glenrose Xaba wees wat onlangs die Kaapstadse marathon gewen en ʼn nuwe nasionale rekord opgestel het. Semenya glo die wedloop oor vyf-kilometer bied waardevolle geleenthede vir jong atlete, en die prysgeld van 147-duisend-rand is ook nie te versmaai nie. Boxer Superstores se bemarkingshoof, Lee-Ann Pillay, sê Semenya se betrokkenheid is ʼn inspirasie vir alle deelnemers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-120-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….