Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die rand het met meer as twee-persent gedaal ná Donald Trump se herverkiesing. Sommige van die verliese het later die dag herstel. Die koerant skryf die aanvanklike reaksie weerspieël die kommer onder handelaars en beleggers oor die uitwerking van Trump se terugkeer na die Withuis.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan Trump se herverkiesing. Die koerant berig oor die vernaamste redes vir die Amerikaners se keuse, Kamala Harris se telefoongesprek met Trump en die reaksie en gelukwensing van wêreldleiers.
# The Star & Pretoria News:
Berig daar is nog beroepe vir strenger voedselsekuriteit en die toepassing van regulasies oor voedselverspreiding.
En tweedens skryf die koerant oor Trump se herverkiesing en wat dit vir Suid-Afrika beteken.
# Sowetan:
Berig met die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek wat gesluit is as gevolg van verkiesingsbetogings in Mosambiek, sit busse en vragmotors kilometers lank aan die SA kant vas. Sakeondernemings ly onder ‘n tekort aan voorraad wat nie kan beweeg nie.
# En The Citizen:
Skryf oor die uitwerking van ‘n gebrek aan reën op die land se voedselproduksie. In die stadium lyk dit of die Suid-Afrikaanse mielie-oes reeds met 21-persent ingekrimp het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Trump.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Trump se herverkiesing en berig oor dieselfde temas as Beeld en Volksblad.
# En Cape Times:
Berig oor die positiewe invloed wat Trump se verkiesing op die markte het.
En skryf die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube het begin om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette toe te pas.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig as iets nie dringend gedoen word nie, kan Nelson Mandelabaai dieselfde pad loop as KwaZulu-Natal, waar ses strande gesluit is as gevolg van hoë E.coli-vlakke.
En tweedens skryf die koerant die liggaam van ‘n vierjarige seun is in die bosse by Sedgefield gevind nadat hy gevlug het toe ‘n hond hom aangeval het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar was ‘n reuse-toename in bedelaars in die sakekern en berig die Comrades-marathon het ‘n finansiële inspuiting gekry.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Teenkorrupsiekommissie van Namibië het uiteindelik die puttoiletsaak van miljoene rand teen ‘n sakeman wat van 2008 voortsleep, afgehandel.
En tweedens skryf die koerant die landelike gemeenskappe in Kavango-Oos, Kavango-Wes en Zambezi is gefrustreer oor die gebrek aan paaie en toegang tot klinieke en skole.