Nuus 07:00
BULLETIN 7 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kamala Harris vra haar ondersteuners om die uitslag te aanvaar
# Meer as 100 Kathlehong-leerders land in die hospital nadat hulle stampmielies geëet het
# En rugby: André Esterhuizen sê die wedstryd teen Skotland gaan nie kinderspeletjies wees nie
# Amerika se visepresident Kamala Harris sê sy is trots op haar verkiesingsveldtog wat daarop gemik was om mense te verenig deur hul liefde vir die land. Sy het haar toegewingstoespraak in Washington DC gehou ná haar nederlaag teen gekose president Donald Trump. Harris sê sy gee toe oor die verkiesingsuitslag, maar nie die stryd wat haar veldtog aangevuur het nie. Sy sê sy het Trump gelukgewens en hom meegedeel dat hulle die mag vreedsaam sal oordra:
# Die Nasionale Tesourie nooi die publiek om deel te neem aan ‘n opname om die toekoms van die belastingaansporing vir stedelike ontwikkelingsones te bepaal. Die belastingaansporing wat in Maart aanstaande jaar verval, is daarop gemik om middestad-gebiede te laat herleef. Die opname vra terugvoer oor die doeltreffendheid van die projek en of dit moet voortgaan of herontwerp word. Die inligting wat ingesamel word, sal lei tot ingeligte besluite oor die toekoms van die aansporing en die uitwerking daarvan op eiendomsontwikkeling en stedelike verval. Die sperdatum vir voltooiing van die opname is 29 November.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het bevestig dat 110 leerders van die Tamaho Primary in Katlehong gister in die hospitaal beland het weens ‘n siekte wat deur kos oorgedra is. Die leerders het maagkrampe gekry en naar geword nadat hulle tydens pouse stampmielies by die skool geëet het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê 98 van die leerders is ontslaan en 12 is steeds in die hospitaal:
# President Cyril Ramaphosa sal na verwagting KwaZulu-Natal vandag besoek vir die onthulling van ‘n King Shaka Zulu-standbeeld by die King Shaka Internasionale Lughawe. Ramaphosa sal ook met die provinsiale uitvoerende gesag in gesprek tree oor ekonomiese groei en dienslewering. Die president sal dan môre aansluit by ‘n Imbizo met plaaslike inwoners, wat regstreekse dialoog oor gemeenskapsontwikkeling moontlik maak onder die tema, Leave No One Behind.
# Die Wes-Kaap het na wat berig word die afgelope vyf jaar meer as 100-duisend-hektaar habitat verloor. Volgens die 2024-verslag oor die Stand-van-die-omgewingsvooruitsigte is dit ‘n bedreiging vir sy bioverskeidenheid. Die gesondheid van die ekosisteem in die provinsie neem af, met ‘n toename in bedreigde spesies. Volgens News24 is bewaringspogings om die verlies aan habitat teen te werk, onvoldoende en word plaaslike lewensbestaan, watersekerheid en weerstand teen klimaatsverandering in gevaar gestel. Die LUR vir Plaaslike Regering, Anton Bredell, het ‘n dringende behoefte aan bewaringstrategieë beklemtoon.
# Rugby: Die Springbok-senter, Andre Esterhuizen, sê hulle maak gereed vir ʼn taai wedstryd wanneer hulle Sondag op Murrayfield in Edinburgh teen Skotland uitdraf. Die Bokke is weens diepte en beserings steeds onseker oor verskeie belangrike posisies in die span. Afrigter Rassie Erasmus sal Vrydag sy groep vir die wedstryddag aankondig. Esterhuizen sê hulle effense rustyd-voorsprong van ses-drie in verlede jaar se eerste Wêreldbeker-groepwedstryd in Frankryk, wys hoe mededingend toetse teen Skotland kan wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-473-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….