Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump wen die Amerikaanse verkiesing in ‘n reuse- politieke terugkeer
# OPOD doen strafregtelike en dissiplinêre stappe teen nege beamptes wat in die gedeklassifiseerde Charl Kinnear-verslag vermeld word
# En, rugby: Die Engelse skeidsregter Christophe Ridley hanteer die Bokke se kragmeting met Skotland op Murrayfield
# Donald Trump gaan na die Withuis terugkeer nadat hy ‘n oorwinning behaal het oor sy Demokratiese teenstander, Kamala Harris. Trump was president tussen 2017 en ’21 en het sy eerste swaaistaat verower deur in Noord-Carolina te wen. Hy is ‘n uur later aangewys as wenner in Georgia, wat hy in 2020 naelskraaps teen Joe Biden verloor het. Trump het kort daarna ook vir Pennsylvania ingepalm, wat die belangrikste van die sewe swaaistate is. Hy het meer as 270 stemme in die kieskollege gekry deur Wisconsin te wen. Die Republikeine het ook beheer van die Senaat by die Demokrate afgeneem.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê hy gaan voort met strafregtelike en dissiplinêre optrede teen nege polisielede wat verbind word met die moord op ‘n speurder van Kaapstad se teen-bende-eenheid, Charl Kinnear, in 2020. Die direktoraat het sy verslag gedeklassifiseer en sewe polisielede uitgewys asook twee van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke. Hoofondersoeker Mario September sê die direktoraat werk saam met die Nasionale Vervolgingsgesag om ‘n vroeëre besluit om nie te vervolg nie, te hersien:
# Beroepe vir die nasionalisering van Suid-Afrika se lotery het opnuut begin te midde van ‘n voortdurende botsing van belange met die Nasionale Loterykommissie. Volgens City Press het die minister van Handel, Parks Tau, die aankondiging van ‘n nuwe lotery-operateur teruggetrek weens vrese oor korrupsie en wanbestuur. Verskeie organisasies, insluitend die ANC, het aangevoer die nasionalisering van die lotery sal regverdige verspreiding van fondse verseker. Die groepe eis dringende optrede om deursigtigheid en aanspreeklikheid in die kommissie te herstel.
# Omgewingsgroepe, insluitend die Green Connection en Extinction Rebellion, doen ‘n beroep op die regering om op te hou om tydens Afrika-energieweek in Kaapstad vennootskappe te smee met fossielbrandstofmaatskappye. Hulle voer aan die hoë koste van die geleentheid sluit die burgerlike samelewing uit in belangrike besprekings wat fokus op olie- en gasbeleggings. Die Green Connection se woordvoerder, Lisa Makaula, sê hulle beplan om buite die perseel te betoog en vra volhoubare ontwikkeling en beskerming vir vissersgemeenskappe wat deur fossielbrandstofprojekte geraak word:
# Rugby: Die Engelse skeidsregter, Christophe Ridley, dra die fluitjie wanneer die Springbokke Sondag op Murrayfield teen Skotland speel. Hy word bygestaan deur sy landgenoot Luke Pearce en Craig Evans van Wallis. Die Australiër Nic Berry hanteer Vrydagaand se verwagte bulstryd tussen Ierland en die All Blacks in Dublin. Die Nieu-Seelander Ben O’Keeffe is Saterdag die 31ste man op die veld op Twickenham waar Engeland teen Australië speel. Die Suid-Afrikaner, Marius van der Westhuizen, is die TV-skeidsregter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-466-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….