Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD deklassifiseer ‘n sensitiewe verslag oor die moord op die Kaapstadse polisiespeurder Charl Kinnear
# Cosatu veroordeel apartheidsvlae by die BELA-optog
# En, rugby: Skotland speel teen die Bokke sonder die vleuel wat vier drieë gedruk het teen Fidji
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het die verslag oor die moord op die speurder van die Kaapstadse teen-bende-eenheid, Charl Kinnear, gedeklassifiseer. Hy is in 2020 buite sy huis in Bishop Lavis geskiet. Die polisiewaghond het vandag op ‘n nuuskonferensie sy standpunt oor die vrystelling van die verslag verduidelik en benadruk slegs diegene wat regstreeks betrokke is het toegang tot bepaalde ondersoekbesonderhede. OPOD se hoof van regsdienste, Stephens Ramafoko, sê die verslag is in 2022 geklassifiseer om sensitiewe inligting oor getuies en beamptes, te beskerm:
# Cosatu sê hy veroordeel die mense wat gister se optog teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette in Pretoria gebruik het om ou apartheidsvlae te vertoon. Die DA, AfriForum, Solidariteit en ander organisasies het betoog teen die BELA-wet. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die Menseregtekommissie moet ‘n ondersoek doen en die persone aanspreeklik hou, want die wet gaan nie oor ras nie:
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Beplanners gaan met die Royal Town Planning Institute in Brittanje saamwerk oor beste praktyke in stadsbeplanning. Die twee organisasies het ‘n ooreenkoms onderteken op die tweede dag van die Wêreld Stedelike Forum in Egipte. Mfaniseni Sihlongonyane van die raad sê as deel van die ooreenkoms sal kennis en kundigheid oor stadsbeplanning uitgeruil word:
# Rugby: Skotland speel Sondag op Murrayfield in Edinburgh teen die Springbokke sonder die vleuel Darcy Graham, wat verlede naweek vier drieë gedruk het in die oorwinning van 57-17 oor Fidji. Hy het ʼn kopbesering opgedoen toe hy sy vierde drie druk en afrigter Gregor Townsend het bevestig hy is nie beskikbaar nie. Kyle Rowe, wat beïndruk het vir Glasgow Warriors tydens hulle onlangse oorwinning oor die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap, het herstel van ʼn besering wat hy teen Fidji opgedoen het en kan moontlik Graham se plaasvervanger wees teen Suid-Afrika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-945-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-722-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Lionsgate het aangekondig sy rolprent oor die lewe van Michael Jackson, met die titel Michael, sal op 3 Oktober 2025 in teaters wees. Die titelrol word vertolk deur Jaafar Jackson, wat ‘n neef is van die ontslape popsuperster. Die bio-rolprent se regisseur is Antoine Fuqua en ander rolle word vertolk deur onder meer Nia Long, Laura Harrier, Miles Teller en Colman Domingo. Dit sal 30 liedjies bevat en sal fliekvlooie ‘n kykie gee in die lewe van die skeppendste kunstenaar wat ooit geleef het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….