Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die graderingsagentskap Fitch is skepties oor die Tesourie se vermoë om te voldoen aan die mediumtermynbegroting. Die agentskap sê die regering sal waarskynlik meer aan die openbare sektor en die redding van Transnet moet bestee as waarvoor begroot is.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die betoging teen die Bela-wet wat gister by die Voortrekkermonument gehou is. Duisende mense geklee in oranje en verteenwoordigend van meer as 40 organisasies het aan die betoging deelgeneem.
En tweedens word berig die sanger Juanita du Plessis het na bewering sowat 900-duisend-rand ontvang uit Louis Liebenberg se omstrede diamantskema.
# The Star & Pretoria News:
Berig die Dienste-seta is vasgevang in vermeende tenderkorrupsie.
En berig hernude waarskuwings is uitgereik oor die waterkrisis in Gauteng.
# Sowetan:
Doen vandag ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om in te gryp by die voedselvergiftigingkrisis in die land. Die koerant het ‘n samestelling van foto’s van die 12 kinders wat in ‘n maand aan vergiftiging omgekom het op sy voorblad.
# En The Citizen:
Skryf ‘n studie het bepaal verkeersligte wat nie werk nie kos die gemiddelde Johannesburgse motoris sowat 28-duisend-rand per jaar aan verlore tyd en brandstofkoste.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die betoging teen die Bela-wet.
En tweedens word berig ‘n klein Bloemfonteinse uitgewer, Crystal Lake Publishers gaan moontlik ‘n boek van die Nobelpryswenner, Bob Dylan uitgee.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die moord op die bendebaas Mark Lifman hou vermoedelik verband met ‘n sekerheidskontrak by ‘n myn in Mpumalanga wat hy nie aan ‘n ander maatskappy wou afstaan nie.
En tweedens skryf die koerant oor die sneeuneerslae in die Wes- en Oos-Kaap en die Lootsbergpas tussen Graaff-Reinet en Middelburg wat tydelik gesluit moes word.
# En Cape Times:
Skryf die Amerikaanse presidentswedloop tussen Trump en Harris verloop kop-aan-kop.
En berig die begrotingsbesnoeiings het ‘n regstreekse uitwerking op leerdervervoer by skole.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig onderhandelinge om Nelson Mandelabaai se nuwe burgemeesterskomitee te vorm het nog ‘n terugslag getref, met twee partye wat dreig het om te onttrek as daar nie aan hul eise voldoen word nie.
En tweedens skryf die koerant die swaar reën in Nelson Mandelabaai het gelei tot padsluitings, wydverspreide elektrisiteitsonderbrekings en oorstromings in laagliggende gebiede.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is kommer oor watervoorsiening en infrastruktuur in eThekwini.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Vereniging vir Ekonomiese Beleidsnavorsing het die Namibiese werkloosheidsyfer van Afrobarometer wat op 43-persent staan, bevraagteken.
En skryf die vermeende wilddief en jaggids Brian Roodt is na sy hofverskyning in Windhoek weer in hegtenis geneem.