Nuus 07:00
BULLETIN 6 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitslae van die Amerikaanse verkiesing begin inkom
# Minister Lamola sê Suid-Afrika wil handels- en verdedigingsbande met Brittanje versterk
# En motorsport: Die laaste MotoGP-wedren word van Valencia na Barcelona verskuif
# Uitslae in die Amerikaanse presidentsverkiesing word stadigaan bekend. Visepresident Kamala Harris het die jongste Demokraat geword wat die Demokratiese vesting, Vermont, wen terwyl oudpresident Donald Trump in Indiana en Kentucky, albei Republikeinse state, gewen het. Die voormalige president het ‘n kort rukkie gelede 154 kieskollege-stemme en die visepresident 81 gehad. Die presidentskandidaat het minstens 270 kieskollege-stemme nodig om te wen. Harris het in een van haar laaste onderhoude aan SiriusXM gesê sy sal ‘n president wees wat Amerika verenig:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika wil handels-, beleggings- en verdedigingsbande met Brittanje versterk. Hy was Dinsdag in Kaapstad gasheer vir die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy. Suid-Afrika is Brittanje se grootste handelsvennoot op die Afrika-vasteland en bilaterale handel tussen die twee lande het in 2023 sowat 133-miljard-rand beloop. Lamola sê die lande se handel- en beleggingsbande is weens die Covid-19-pandemie en ander uitdagings vertraag, en moet weer ʼn hupstoot kry.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik is gekant teen Eskom se voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 66-persent oor drie jaar en beskou dit as onbekostigbaar en tot nadeel van die ekonomie. Hulle vra die kragvoorsiener om daarop te fokus om uitgawes te besnoei asook die verbetering van doeltreffendheid en om hom toe te spits op skoon energie. OUTA-woordvoerder, Stefanie Fick, versoek die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika om die verhogings te verwerp om verdere ekonomiese swaarkry vir verbruikers en ondernemings te voorkom:
# Die waarnemende Gautengse premier en LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê die polisie het ʼn mandaat om op voedselvervaardigers te fokus aangesien gevalle van vermeende voedselvergiftiging toeneem. Sy het die gesinne van twee leerders van Sonqoba Primary School in Katlehong besoek. Hulle is dood nadat hulle lekkernye geëet het wat hulle by ʼn plaaslike spazawinkel gekoop het, en kos wat deur die skool verskaf is. Diale-Tlabela sê gemeenskappe moet versigtig wees om hul kinders toe te laat om kos te eet wat by spazawinkels gekoop is:
# Die ANC vra vir kalmte in Mosambiek te midde van toenemende onrus na die verkiesing en bewerings van bedrog deur die opposisieleier, Venâncio Mondlane. Hy beweer hy het ‘n sluipmoordpoging in Sandton, Johannesburg, oorleef. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, bevestig daar is deurlopend samesprekings met die regerende Frelimo-party in Mosambiek om ʼn vreedsame oplossing te beding. Betogings word vir Donderdag beplan en sleutelroetes is geblokkeer. Die ANC onderskryf die belangrikheid van stabiliteit in die streek.
# Motorsport: Die seisoen se laaste MotoGP-wedren gaan volgende naweek in Barcelona in Spanje plaasvind nadat dit verskuif is vanuit die vloedgeteisterde oostelike stad Valencia. Die dodetal het reeds tot minstens 217 gestyg en talle mense word nog vermis. Barcelona het vroeër die seisoen die Katalaanse Grand Prix aangebied. Die wedren, wat in eensgesindheid met die gemeenskap van Valencia gehou word, sal die kampioenskap beslis. Die plaaslike jaer Jorge Martin is bo-aan die punteleer en het ‘n voorsprong van 24-punte oor die verdedigende kampioen, Francesco Bagnaia van Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-93-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….