Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gesinne betoog vir genade vir die aangehoude Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee
# Die DA-leier veroordeel staatsbeheer in onderwys tydens die BELA Wet-betoging in Pretoria
# En, sokker: UEFA kondig ‘n minuut stilte aan voor dié week se wedstryde na die dodelike oorstromings in Spanje
# Die gesinne van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs wat reeds 634 dae wederregtelik in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word, het vandag ‘n vreedsame betoging gehou by die Afrika Energieweek in Kaapstad. Hulle vra begenadiging en beklemtoon dit eis ‘n ernstige tol op die gesondheid van Frik Potgieter en die Brits-Suid-Afrikaanse burger, Peter Huxham. Woordvoerder Francois Nigrini versoek die Suid-Afrikaanse en Britse ministers om in te gryp om die mans se vrylating te verseker:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het aangekondig hervormings in die watersektor die afgelope 100-dae in haar amp, vorm deel van Operasie Vulindlela. Die minister het aan die media gesê sleutelstappe is die skep van die Nasionale Waterhulpbron-infrastruktuuragentskap vir vinniger verwerking van watergebruikslisensies met ‘n teiken van 90-dae, en hervormings van munisipale waterdienste om regulering te verbeter. Volgens haar moet hierdie veranderinge die bestuur van water moderniseer en volhoubaarheid regoor Suid-Afrika verbeter:
# Die Johannesburgse Aandelebeurs waarsku Eskom se skuldbriewe kan opgeskort en onttrek word indien hy versuim om sy finansiële state vir 2023/’24 teen die einde van die maand in te dien. Eskom reik skuldbriewe op die Skuld-platform van die Johannesburgse Aandelebeurs uit en het noteringsvereites se sperdatum van sewe maande misgeloop. Die kragvoorsiener wys op vertragings weens ‘n voortgesette ondersoek en onderneem om sy state teen Desember uit te reik. Hierdie waarskuwing volg op ‘n opgeskorte boete van drie-miljoen-rand vroeër vanjaar vir bestuurstekortkominge.
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het tydens ‘n betoging in Pretoria sterk teenkanting teen klousules vier en vyf van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette uitgespreek. Hy waarsku indien onderrig nie in ‘n moedertaal ontvang word nie, kan leerders se begrip van vakke soos wiskunde en wetenskap benadeel word. Steenhuisen het betogers toegespreek by die Voortrekkermonument en gevra vir plaaslike beheer in skole en ‘n fokus op die verbetering van onderwysstandaarde. Hy sê Suid-Afrika se toekoms is in die hande van ‘n goed opgeleide jeug:
# Sokker: Die Europese beheerliggaam, UEFA, sê daar sal ‘n minuut stilte gehandhaaf word voor die begin van hierdie week se klubwedstryde na verlede week se dodelike oorstromings in Valencia, Spanje. Meer as 200 mense is dood toe die streek binne agt ure ‘n hele jaar se gemiddelde reënval gemeet het. Wedstryde in die Kampioeneliga word vandag en môre gespeel, en wedstryde in die Europaliga en Konferensieliga Donderdag. Die Spaanse span, Barcelona, het vroeër aangekondig spelers se truie gaan opgeveil word om geld vir die slagoffers in te samel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-766-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….