Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA in Gauteng wil hê die regering moet ‘n moratorium afkondig vir die sluiting van alle spazawinkels
# ‘n Klein gemeenskap in New Hampshire begin die Amerikaanse verkiesing met ‘n gelykop-uitslag tussen Trump en Harris
# En, padwedlope: Sydney word bygevoeg by die ses gesogte marathons op die lys van Wêreldmarathon Majors
# ActionSA is ontsteld oor die voortdurende sterftes onder kinders in Gauteng, ondanks ‘n onderneming deur premier Panyaza Lesufi om voedselinspekteurs te ontplooi om spazawinkels te monitor. In die jongste voorval is ‘n tienjarige meisie in Alexandra dood nadat sy na bewering peuselhappies van ‘n spazawinkel geëet het. Funzi Ngobeni van Action SA sê die regering moet ‘n dringende moratorium afkondig en alle spazawinkels in Gauteng sluit, hangende ‘n provinsiale oudit:
Die vakbond Giwusa is ook bekommerd oor die dood van kinders weens beweerde voedselverfiftiging. Die dood van die meisie van Alexandra volg op dié van ses kinders in Naledi, Soweto, verlede maand. Giwusa se woordvoerder, Koketso Phasha, sê dit is die gevolg van armoede en die hoë lewenskoste:
# Kiesers in die Amerikaanse dorpie, Dixville Notch, het verkiesingsdag met ‘n gelykop-stemmery begin, ‘n weerspieëling van die ongelooflike kop-aan-kop-wedloop na die Withuis. Kamala Harris en Donald Trump het elkeen drie stemme gekry in die klein gemeenskap in die noordoostelike deelstaat New Hampshire, wat reeds dekades die verkiesingsdag inlui, ure voor stemlokale in die res van die land open. Kieswette in New Hampshire laat munisipaliteite met minder as 100 inwoners toe om stemlokale om middernag te open en te sluit wanneer alle geregistreerde kiesers hul burgerlike plig nagekom het.
# Padwedlope: Die Sydney-marathon is op die lys van Wêreldmarathon Majors gevoeg en is saam met ses ander deel van die top internasionale langafstandswedlope. Die ander is Londen, New York, Boston, Tokio, Berlyn en Chicago. Die insluiting van Sydney volg na ʼn program van drie jaar om die geleentheid te verbeter. Die uitvoerende hoof van World Marathon Majors, Dawna Stone, sê die organisering van Sydney se wedloop was uiters indrukwekkend. Die Kaapstadse marathon word tans oorweeg vir byvoeging tot die majors teen 2026.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-938-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-744-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-19-sent per vat.
# Om af te sluit: Sowat 13-miljoen kinders in Suid-Afrika leef in armoede, in weerwil van beleggings van sowat 770-miljard-rand per jaar deur die regering, die private sektor en nie-regeringsorganisasies. Die syfers is deur die Nelson Mandela-kinderfonds bekendgemaak. Die studie raam dat die regstreekse koste van kinder-armoede sowat nege-persent van Suid-Afrika se bruto-binnelandse produk beloop. Die fonds sê die hoër regstreekse én onregstreekse koste van kinder-armoede is aanduidend van die land se hoër armoede- en ongelykheidskoers en relatief kleiner ekonomie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….