Nuus 11:00
BULLETIN 5 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# DA Abroad se stryd oor burgerskapregte kom vandag in die Konstitusionele Hof voor
# Vier vermeende taxi-huurmoordenaars word in KwaZulu-Natal doodgeskiet
# En Kamala Harris sê haar veldtog het gegaan oor die stryd vir Amerikaanse demokrasie
# DA Abroad se jarelange veldtog om Suid-Afrikaanse burgerskap te behou vir mense wat oorsee woon, word vandag in die Konstitusionele Hof aangehoor. Dit volg ná ‘n uitspraak van die Appèlhof wat bepaal dat diegene wat hul burgerskap verloor het nadat hulle ‘n ander nasionaliteit verkry het, steeds as burgers erken moet word. Die DA-lid, Ludré Stevens, versoek die hof om hierdie besluit te bekragtig, en bepleit die outomatiese en gratis herstel van burgerskap vir die byna twee-miljoen Suid-Afrikaners wat geraak word.
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, het kommer uitgespreek oor die geld wat op salarisse vir geskorste staatsamptenare bestee word. Die minister het in ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag bekendgemaak dat die totale koste van skorsings vir die eerste twee kwartale van hierdie boekjaar sowat 49-miljoen rand beloop vir nasionale departemente, en 93,4-miljoen-rand vir provinsiale departemente. Buthelezi sê sy departement tree nou op om die koste vir die staat beduidend te verlaag.
# Vier verdagtes wat gesoek is in verband met moorde in die taxi-bedryf is in ‘n jaagtog met die polisie in Mooirivier, KwaZulu-Natal, doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê hulle het die verdagtes se voertuig op die N3-hoofweg onderskep en die bestuurder gewys hy moet stilhou. Hy het egter in die rigting van Estcourt weggejaag en ʼn skietery het uitgebreek. Hy sê twee vuurwapens, ʼn geweer, ʼn pistool en rondes ammunisie is in die voertuig gekry:
# Die Amerikaanse vise-president, Kamala Harris, sê sy is gereed om ‘n nuwe geslag leierskap vir Amerika te bied. Die Demokrate se presidentskandidaat het haar laaste saamtrek voor stemdag in Pennsilvanië gehou. Miljoene Amerikaners gaan vandag hul kruisies trek vir die land se volgende president. Harris en oudpresident Donald Trump benodig elk minstens 270 stemme in die kieskollege om die volgende president te word. Harris sê haar veldtog was oor die stryd om Amerika se demokrasie:
# Sokker: Manchester City se hoofafrigter, Pep Guardiola, glo dit gaan moeilik wees om hierdie seisoen hul Premierliga-titel te verdedig weens ‘n beseringslys wat al langer raak. City speel vanaand in Portugal teen Sporting Lisbon nadat hulle Saterdag in die Kampioeneligabekerreeks teen Bournemouth verloor het, en die vorige week teen Tottenham Hotspur, wat hulle onoorwonne lopie van 11-maande in die Premierliga beëindig het. Guardiola sê hy weet wat die standaard is wat hulle gestel het en is vol vertroue hulle kan terugbons:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-704-dollar-26 sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….