Nuus 09:00
BULLETIN 5 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontmoet prins William voor die Earthshot-prystoekenningseremonie
# Lebogang Maile vra vir ‘n noodtoestand te midde van toenemende voedselvergiftigingsgevalle
# En ‘n regter bepaal Elon Musk mag voortgaan om daagliks ’n miljoen dollar aan ’n kieser te gee.
# President Cyril Ramaphosa sal vandag by sy ampswoning in Kaapstad ‘n hoflikheidsbesoek van die Prins van Wallis ontvang. Prins William is in Suid-Afrika om môre as gasheer op te tree by die vierde jaarlikse Earthshot-prysuitdeling. Die Earthshot-prys plaas die kollig op die uitwerking van klimaatsverandering, omgewingskade en besoedeling, asook die kreatiewe oplossings waarmee mense en gemeenskappe wêreldwyd vorendag kom. Die Presidensie sê Ramaphosa en prins William sal verskeie sake van gemeenskaplike belang bespreek.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê ‘n noodtoestand moet afgekondig word oor die kwessie van spazawinkels. ‘n Tienjarige meisie is die naweek in Alexandra dood ná sy van borspyn gekla het nadat sy peuselgoed van ‘n spazawinkel naby hul huis geëet het. Ses kinders is verlede maand in Soweto dood nadat hulle ‘n pakkie skyfies gedeel het wat hulle by ‘n spazawinkel gekoop het. Maile sê hulle eis verantwoording van die spaza-eienaars:
Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê intussen iets moet drasties gedoen word om ‘n oplossing te vind vir uitbreking van siektes wat deur voedsel oorgedra word en leerders negatief raak. ‘n Aantal kinders is dood en talle moes hospitaalbehandeling ontvang in gevalle regoor Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Makaneta sê dit is noodsaaklik dat die regering toesien dat spazawinkels standaarde vir voedselveiligheid nakom:
# ʼn Regter van Pennsilvanië het beslis die tegnologie-miljardêr, Elon Musk, se daaglikse skenking van een-miljoen-dollar aan kiesers in swaaistate mag voortgaan. Philadelphia se distriksaanklaer, Larry Krasner, het die skenking ʼn skelmstreek genoem wat die staat se verkiesingswet oortree, en gevra dat dit gestaak word. Die geskenk deur Musk se America PAC eindig vandag wanneer die presidentsverkiesing plaasvind. Tesla se uitvoerende hoof het sedert 19 Oktober elke dag ʼn tjek van een-miljoen-dollar aan ʼn kieser geskenk wat sy petisie om spraakvryheid en wapenregte te beskerm, onderteken.
# Rugby: Die voormalige All Blacks-flank, Liam Berry, hoop om as nuwe hoofafrigter van die Australiese Sewesspan te verbeter op die span se vierde plek by die Olimpiese Spele in Parys. Hy volg John Manenti op wat in Augustus bedank het. Die drie-en-vyftigjarige Barry se pa, Kevin, en oupa, Edward, het ook toetsrugby vir Nieu-Seeland gespeel. Hy was hulpafrigter vir die All Blacks se Sewesspan voordat hy verskuif het na die afdeling vir hoëprestasiesport in Nieu-Seeland. Volgens Barry wil hy nie die sport van vooraf ontwikkel nie, maar eerder voortbou op wat reeds bestaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-923-dollar-en-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….