Nuus 08:00
BULLETIN 5 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fitch kan moontlik Suid-Afrika se kredietgradering aanpas
# Die DA verwelkom die heraanstelling van die hoof van die Pretoria High School for Girls
# En Donald Trump beloof om die Amerikaanse droom te red
# Fitch Ratings sê hy oorweeg om Suid-Afrika se kredietvooruitsig te hersien indien die regering se pogings om skuld te bekamp, verbeter. Die Nasionale Tesourie voorspel staatskuld sal teen Maart 2026 ‘n piek bereik wat 75,5-persent van die bruto binnelandse produk is. Dis effens hoër as sy vooruitskatting in Februarie. Fitch sê as hy meer gerus raak dat Suid-Afrika se mediumtermyn-vooruitsig genoeg sal verbeter om probleme met fiskale konsolidasie te verminder, sal dit positiewe gevolge vir die gradering inhou. Suid-Afrika is drie vlakke onder beleggingsgraad met ʼn bestendige vooruitsig.
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, lei Suid-Afrika se afvaardiging na die 12de beraad van die Wêreld Stedelike Forum wat dié week in die Egiptiese hoofstad, Kaïro, plaasvind. Die tema is: Dit begin tuis. Plaaslike optrede vir volhoubare stede en gemeenskappe. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê afgevaardigdes van reg oor die wêreld kom byeen om vas te stel hoe verskillende regeringsvlakke beter kan saamwerk om die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te haal:
# Die DA in Gauteng het dit verwelkom dat Pretoria High School for Girls se hoof, Phillipa Erasmus, ná ʼn skorsing van drie maande in haar pos herstel is. ʼn Ondersoek na bewerings van rassisme wat in opdrag van die provinsiale Onderwysdepartement gedoen is, het aanbeveel dat owerhede optree teen Erasmus, die adjunkhoof, twee onderwysers en talle ander. ʼn DA-woordvoerder, Sergio Isa Dos Santos, sê die ondersoek was gebrekkig:
# Oudpresident Donald Trump het beloof om vrede in die wêreld te herstel en die Amerikaanse droom te red. Hy het sy laaste saamtrekke voor vandag se verkiesing in Noord-Carolina, Pennsilvanië wat as die belangrikste swaaistaat beskou word, en Michigan gehou. Trump het by ʼn saamtrek in Pittsburgh, Pennsilvanië, gesê God het hom tydens die sluipmoordpoging in Julie gered sodat hy Amerika kan red:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, is deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Die speler van Belarus het die Italianer, Jasmine Paolini, in die Pers Groep geklop. Die Olimpiese kampioen van China, Zheng Qinwen, ding mee vir ʼn plek in die halfeindronde nadat sy Elena Rybakina van Kazakstan verslaan het. In die Oranje Groep takel die Amerikaner, Jessica Pegula, en Barbora Krejcikova van Tsjeggië mekaar vandag voordat die verdedigende kampioen van Pole, Iga Swiatek, en die Amerikaner Coco Gauff sake uitspook.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen een-duisend-213-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-01-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….