Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man van Klawer kry ‘n lewenslange vonnis vir die moord op ‘n tiener in 2022
# ‘n Ondersoek na die Pretoria High School for Girls ontbloot administratiewe wangedrag en die misbruik van hulpbronne
# En, tennis: Alexander Zverev vervang Carlos Alcaraz as die wêreld nommer twee nadat hy die Paryse Meesterstoernooi wen
# ‘n Wes-Kaapse man is tot lewenslank gevonnis vir die moord op ʼn tiener in Klawer in Februarie 2022. Die 58-jarige Daniel Smit het verlede week skuldig gepleit aan die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk. Hy het erken hy het die seun ontvoer nadat hy hom betrap het toe hy mango’s steel en hom later vermoor en probeer om sy liggaamsdele te versteek. Die Hooggeregshof het tydens die sitting op die nabygeleë Vredendal, Smit ook tot ʼn bykomende 33-jaar gevonnis vir poging tot moord, ontvoering, lykskending en regsverydeling.
# ‘n Ondersoek na Pretoria High School for Girls het administratiewe wangedrag en ʼn misbruik van hulpbronne aan die lig gebring. Die Gautengse Onderwysdepartement, bygestaan deur Mdladlamba-prokureurs, het die ondersoek gedoen na aanleiding van klagtes oor rassediskriminasie, onbillike aanstellingspraktyke en die hantering van klagtes deur die skoolhoof, Phillipa Erasmus. ‘n Woordvoerder van die regspraktyk, Mthuthuzeli Mdladlamba, het aan die media gesê ‘n bestuurder van die landgoed het verantwoordelikhede wanbestuur en skoolhulpbronne vir persoonlike gewin aangewend:
# Die Israelse Weermag sê hulle het ‘n senior Hizbollah-bevelvoerder doodgemaak wat volgens hulle in bevel was van vuurpyl- en tenkmissiel-aanvalle teen Israelse magte in die suide van Libanon. Die Weermag sê Hizbollah se bevelvoerder van die Baraachit-gebied in Suid-Libanon, Abu Ali Rida, is in ‘n lugaanval dood, sonder om uit te wei oor wanneer hy dood is. Hulle sê Rida was verantwoordelik vir die beplanning en uitvoering van vuurpyl- en tenkmissiel-aanvalle op Israelse soldate en was verantwoordelik vir die bedrywighede van Hizbollah-operateurs in die gebied.
# Tennis: Daar is dié week ʼn hele paar veranderings aan die ATP-wêreldranglys. Alexander Zverev van Duitsland is nou nommer twee nadat hy die Paryse Meesterstoernooi ingepalm het. Hy het daarmee vir Carlos Alcaraz van Spanje verbygesteek, met Daniil Medvedev van Rusland wat Novak Djokovic van Serwië in die vierde plek vervang het. Jannik Sinner van Italië is reeds verseker dat hy die seisoen bo-aan die ranglys gaan eindig. Taylor Fritz van Amerika is steeds sesde. Die Noorweër Casper Ruud en Australiër Alex de Minaur het albei opgeskuif, maar die Rus Andrey Rublev en Grigor Dimitrov van Bulgarye het teruggesak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-69-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Departement van Gesondheid het herbevestig dat Voorblootstelling-profilakse, oftewel PrEP, ‘n hoogs doeltreffende metode is om MIV te voorkoming. Die departement se woordvoerder, Musa Manganye, het aan die SABC gesê wanneer PrEP volgens voorskrif geneem word, verminder die MIV-risiko deur seksuele oordrag met 99-persent, en met 74-persent vir dwelmgebruikers wat inspuit. Hy het die belangrikheid van die gebruik van kondome beklemtoon vir breër beskerming teen besmetting met seksuele oordrag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….