Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die langverwagte La Dolce Vita Orient Express-trein word in 2025 in Italië bekend gestel. Die trein kry sy inspirasie van die glansryke lewenstyl van die 1960s’ en ’70s en het nege passasierswaens. Die sjef met drie Michelin-sterre, Heinz Beck, sal eet-ervarings uit die boonste rakke bedien, wat geïnspireer is deur die 14 Italiaanse streke van die nuwe trein se agt roetes. Dit sluit in ‘n truffelroete tussen Rome en Nizza Monferrato, ‘n toer deur die Toskaanse wingerde en ‘n besoek aan Montalcino. Pryse begin by sowat 66-duisend-rand.
# Lindie-Alet van Staden van die L’Ormarins-wynlandgoed by Franschhoek in die Kaapse Wynland is die Wes-Kaapse Prestige Agri-werker van die Jaar. Die kompetisie gee erkenning aan die noodsaaklike rol wat landbouwerkers in die groeiende provinsiale ekonomie en voedselsekerheid speel. Daar was vanjaar ‘n aansienlike toename in deelnemers. In 2020 was daar 36 inskrywings en vanjaar een-duisend-233. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê met Van Staden se leierseienskappe en haar vaardighede sal sy voortgaan om ʼn waardevolle bydrae tot die landboubedryf te lewer.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het sy jaarlikse Kanselierstoekennningseremonie by die Kieviets Kroon-wynlandgoed in Gauteng gehou. Die gesogte geleentheid gee erkenning aan uitnemende akademiese prestasies van die top sewe graduante – een elk van die universiteit se sewe fakulteite. Onder hulle was Simphiwe Patrick Xolo van die Fakulteit Ekonomie en Finansies, Zanté Bester van die Wetenskapsfakulteit en Alden Clapper van die Kunste en Ontwerpfakulteit.
# Die fliek, Venom: The Last Dance, is die tweede agtereenvolgende naweek die gewildste fliek in China en het meer as 2,5-miljard-rand by kaartjiekantore verdien. Vir dié laaste rolprent in die trilogie keer Tom Hardy terug as Venom, een van Marvel se grootste en ingewikkeldste karakters. Cesium Fallout met Andy Lau en Karen Mok was in sy openingsnaweek tweede en The Unseen Sister was derde. Harry Potter and the Goblet of Fire is die vierde Harry Potter-fliek wat heruitgereik word, en het die vierde plek gehaal met die Chinese riller, Yuanyang Lou, vyfde.
# En ten slotte: Collins Dictionary het die woord, brat, aangewys as sy woord van die jaar vir 2024. Die woord verwys na iemand wat ʼn selfversekerde, onafhanklike en genotsugtige houding het. Die Britse woordeboekuitgewer, sê die Britse sanger Charli XCX het die woord, brat, gewild gemaak. Ander woorde op die kortlys sluit in delulu, wat beteken iemand se idees of verwagtinge is totaal verkeerd of onrealisties, asook die woord anti-tourism. Die woordeboek het AI verlede jaar as woord van die jaar gekies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….