Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse styg Woensdag weens duurder ruolie
# Die Pretoria High School for Girls se hoof het nie voldoen aan die hantering van rassismeklagtes
# En, die legendariese musiekvervaardiger Quincy Jones sterf op 91
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het verhogings in brandstofpryse vanaf Woensdag aangekondig. Die prys van 95- en 93-oktaan-petrol styg met 25-sent per liter, terwyl die prys van standaard diesel met 21-sent sal styg, en diesel met ‘n lae swawelinhoud met 20-sent per liter. Lampolie se prys styg met 21-sent per liter en die maksimum kleinhandelprys van vloeibare petroleumgas styg met 36-sent per kilogram. Volgens die departement weerspieël die aanpassings voortgesette wêreldwye spanning en stygende internasionale pryse van Brent-ruolie.
# Die GOOD-party vra die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, om te erken dit is onredelik om die aantal onderwysers in die provinsie te verminder terwyl die land in die greep van ‘n onderwyserstekort is. Brett Herron van die party sê die provinsiale regering ontvang genoeg geld vanaf die Nasionale Tesourie om geen onderwysposte te skrap nie. Hy beweer die departement kies egter om van hierdie geld te bestee aan ander projekte, wat minder nodig is:
Nog skolenuus: ’n Ondersoek deur die Gautengse Onderwysdepartement het bevind die hoof van die Pretoria High School for Girls, Phillipa Erasmus, het klagtes van rassisme verkeerd hanteer. Die ondersoek het in Julie begin nadat 12 meisies, insluitend prefekte, daarvan beskuldig is dat hulle rassistiese opmerkings gemaak het in ‘n WhatsApp-groep slegs vir witmense. Mthuthuzeli Mdladlamba van Mdladlamba-prokureurs sê in sy bevindinge Erasmus se gebrek aan optrede sluit in selektiewe dissipline en afknouery wat nie aandag gekry het nie:
# Rugby: Die All Blacks het twee van hulle staatmakers verloor voor Vrydag se toets teen Ierland in Dublin. Die losskakel Beauden Barrett en die haker Codie Taylor het albei harsingskudding opgedoen in Saterdag se naelskraapse oorwinning van 24-22 oor Engeland op Twickenham. Hoofafrigter Scott Robertson het hulle vervang met Harry Plummer en Brodie McAlister, wat tans saam met die All Blacks-vyftiental deur die Verenigde Koninkryk toer. Die kragmeting op die Aviva-stadion word as ‘n wraak-ontmoeting beskou vir Ierland wat verlede jaar in die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Nieu-Seeland verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-790-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-742-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Die gevierde musiekvervaardiger, Quincy Jones, is in die ouderdom van 91 oorlede. Sy reklame-agent, Arnold Robinson, bevestig Jones het vreedsaam gesterf in sy huis in Los Angeles, omring deur familie. Hy was veral bekend vir sy werk met ikone soos Michael Jackson en Ray Charles en die 28-malige Grammy-wenner het vir meer as sewe dekades vorm gegee aan Amerikaanse musiek. Sy produksies, insluitend Jackson se Thriller, wat meer as 65-miljoen-kopieë verkoop het, en rolprentklankbane soos The Italian Job, laat ‘n onvergeetlike nalatenskap in musiek en rolprente.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….