Nuus 11:00
BULLETIN 4 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die voortgesette kuberbedrog by SASSA
# Suid-Afrika en Chili onderteken ’n ooreenkoms van verstandhouding
# En die Gautengse Gesondheidsdepartement is bekommerd oor die styging in voedselsiektes
# Die DA sê hy is diep bekommerd oor onlangse berigte van ‘n internasionale groep kuberkrakers wat dreig om SASSA-inligting bekend te maak. ‘n Groep beweer hulle het voorheen 175-miljoen-rand by SASSA gesteel. ʼn DA-woordvoerder, Alexandra Abrahams, sê die groep het die inligting bekom deur ʼn kwesbare toegangspunt op die stelsel vir maatskaplike toelaes. Sy sê die IT-sekerheid moet dringend gemoderniseer en versterk word:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, en Chili se adjunkminister van Buitelandse Sake, Claudia Sanhueza, onderteken vandag in Pretoria ‘n ooreenkoms van verstandhouding oor visserye en akwakultuur. Dit gee formeel erkenning aan ‘n samewerkende raamwerk oor die bestuur van mariene bronne, navorsing, tegnologie-uitruiling en die stryd teen onwettige, onaangemelde en ongereguleerde vissery. Die ooreenkoms sal bilaterale betrekkinge versterk en pogings vir volhoubare visserybestuur en akwakultuurvernuwing bevorder.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement herhaal sy beroep op die publiek om versigtig te wees wanneer hulle kos koop. Dit volg nadat ‘n tienjarige meisie gister in Alexandria dood is en haar ma en broer in die hospitaal opgeneem is, ná hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het. Hulle het na bewering siek geword na hulle versnaperings by ‘n snoepwinkel gekoop het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê dit is belangrik vir mense om kos by betroubare verkopers met geldige permitte te koop:
# Moldawië se pro-Westerse president, Maia Sandu, het ‘n tweede ampstermyn gewen deur die politieke nuweling Alexandr Stoianoglo te verslaan, wat deur die pro-Russiese Party van Sosialiste gesteun is. Voorlopige uitslae wat deur die Verkiesingskommissie vrygestel is, toon Sandu het 55-persent van die stemme gewen teenoor Stoianoglo se 45-persent. Die verkiesing is ontsier deur bewerings van inmenging, die koop van stemme en vals bomdreigemente by stemlokale in Frankfurt, Duitsland, en Liverpool en Northampton in Brittanje. Rusland het ten sterkste ontken dat hy by die verkiesing inmeng.
# Motorsport: Die verdedigende wêreldkampioen, Francesco Bagnaia, kan steeds sy MotoGP-titel behou nadat hy die Maleisiese Grand Prix gewen het. Die Italianer het drie sekondes voor sy kampioenskapsmededinger, Jorge Martin, geëindig, met Enea Bastianini derde. Brad Binder van Suid-Afrika was in ‘n ongeluk betrokke en kon nie klaarmaak nie. Die kampioenskap sal later die maand in die laaste wedren van die seisoen beslis word, met Martin wat tans met 24 punte voorloop. Bagnaia sê hy geniet die mededinging om die titel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-142-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….