Nuus 09:00
BULLETIN 4 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile het na wat berig word voor die ANC se integriteitskommissie verskyn
# Minister Creecy word versoek om aandag te gee aan die teistering van motoriste deur Santaco
# En Kamala Harris onderneem om alles in haar vermoë te doen om die oorlog in Gaza te beëindig
# Adjunkpresident Paul Mashatile het volgens berigte die naweek voor die ANC se integriteitskommissie verskyn. City Press berig hy moes verslag doen oor al die bewerings teen hom wat in die media gemaak word. Van die bewerings sluit in dat Mashatile se skoonseun voordeel getrek het uit staatstenders en dat die adjunkpresident in huise woon wat met tendergeld gekoop is. Hy het volgens berigte ook die Parlement mislei deur nie sy gebruik van verskeie eiendomme te verklaar nie. Dit sluit in ‘n huis van 37-miljoen-rand in Waterval, Gauteng. Mashatile ontken al die bewerings.
# Die Save South Africa Civic Movement doen ‘n beroep op die minister van Vervoer Barbara Creecy om vinnig op te tree om die intimidasie deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad stop te sit. Die beweging beweer privaat motoriste kla hulle word deur taxi-patrollievoertuie geïntimideer wanneer hulle saamrygeleenthede aan hulle familielede gee. Tebogo Mashilompane van die beweging sê dit is duidelik Santaco neem die wet in eie hand:
# Die brandweerdiens van die Kaapse Wynlandistriksmunisipaliteit sê Du Toitskloof is steeds gesluit na ‘n brand gisteraand teen die hange van bergpas uitgebreek het. Die brand is intussen in bedwang gebring. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê die gebied word egter nog nie as veilig beskou nie:
# Amerika se visepresident Kamala Harris het beloof om alles in haar vermoë te doen om die oorlog in Gaza te beëindig. Sy het ʼn saamtrek in Michigan toegespreek waar Amerika se grootste Arabies-Amerikaanse bevolking woon. Michigan het sowat 240-duisend geregistreerde Moslem-kiesers. Harris sê sy sal seker maak al die gyselaars word vrygelaat, die lyding in Gaza stop, Israel se veiligheid verseker en toesien dat die Palestynse mense waardigheid, vryheid, sekerheid en selfbeskikking kry:
# Padwedlope: Abdi Nageeye van Nederland het die mans-afdeling van New York Stad se marathon gewen. Die 35-jarige atleet het sy eerste groot wêreldtitel in twee ure, sewe minute en 39 sekondes gewen wat ses sekondes vinniger is as die 2022-manskampioen van Kenia, Evans Chebet. Albert Korir, ook van Kenia, is derde. Die eerste drie vroue oor die wenstreep was al drie van Kenia. Sheila Chepkirui was eerste in twee uur, 24 minute en 35 sekondes. Sy was 14 sekondes vinniger as die verdedigende kampioen, Hellen Obiri, en Vivian Cheruiyot.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-142-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….