Nuus 13:00
BULLETIN 3 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê Suid-Afrika het ‘n stabiele padnetwerk nodig wat goed onderhou word
# Meer as 200 onwettige mynwerkers kom na die oppervlak as gevolg van druk deur vala umgodi-spanne in Noordwes
# En krieket: Nieu-Seeland klop Indië in die derde toets en maak skoonskip in die reeks met 3-0
# Die minister van Vervoer Barbara Creecy sê Suid-Afrika het ‘n stabiele padnetwerk nodig wat goed onderhou word. Dit sal toegang tot ekonomiese bedrywighede verbeter en die veilige vervoer van mense en vrag met ‘n wêreldklasstelsel verbeter. Creecy het die R573 Moloto-deurgangspadprojek tussen Limpopo en Gauteng besoek. Sy sê die gehalte van die pad-infrastruktuur speel ‘n lewensbelangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie:
# Altesaam 225 onwettige mynwerkers het gister weens hongersnood en ontwatering na die oppervlak gekom uit ondergrondse bedrywighede in die Orkneymyn in Noordwes. Die woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe, sê hulle is deel van vermoedelik honderde,of selfs duisende, onwettige mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is sonder kos, water en noodsaaklikhede omdat die roetes wat gebruik word om voorraad by die onwettige mynwerkers af te lewer, deur vala umgodi-spanne geblok word:
# Die Israelse weermag sê ‘n senior Hizbollah-operateur is Vrydag gevange geneem in ‘n vlootklopjag in die noordelike Libanese dorp Batroun. ‘n Amptenaar sê spesiale magte het die individu in ‘n spesiale operasie aangekeer en teruggeneem na Israelse grondgebied. Libanon se staatsnuusagentskap sê ‘n “militêre mag” het met dagbreek op die strand geland, ‘n klopjag uitgevoer op ‘n nabygeleë gebou, en een persoon gevange geneem voor hulle in ‘n snelboot weggejaag het. Libanese owerhede is woedend oor die klopjag en die Buitelandse Sakeministerie is beveel om ‘n klagte in te dien by die Veiligheidsraad van die VN.
# Krieket: Nieu-Seeland het ‘n ongehoorde 3-0 reeksoorwinning in Indië behaal. Die Swart Pette het die gashere uitgeboul vir 121 op ‘n moeilike blad vir ‘n 25-lopie-oorwinning op die derde dag van die derde en laaste toets in Moembaai. Die laaste keer dat die Indiërs so ‘n nederlaag beleef het was in 2000, in ‘n reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika. Die besoekers het die aanvangswedstryd in Bengaluru met agt paaltjies gewen vir hulle eerste toetsoorwinning in Indië in 36 jaar en het die reeks beklink met ‘n oorwinning van 113-lopies in Pune.
# En, die ANC het die lid van die nasionale uitvoerende komitee, Nkosazana Dlamini-Zuma, gelukgewens nadat sy vereer is met die Pan-Afrika Vroue-bemagtigingsnalatenskap-toekenning by die spitsberaad in Addis Abeba in Ethiopië. Die woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê Dlamini-Zuma is vereer vir haar bydrae tydens haar termyn as voorsitter van die Kommissie van die Afrika-unie tussen 2012 en 2017. Toe sy die pos beklee het, het Dlamini-Zuma hard gewerk om vroue toegang te gee tot moderne landbou-implemente om hulle landbou-produktiwiteit te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….