Nuus 08:00
BULLETIN 2 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa wens Botswana se verkose president Duma Boko geluk met die verkiesingsuitslag
# ActionSA vra die hoof van Vervolgingsgesag vir ‘n hersiening van die besluit om Kodwa se korrupsie-aanklagte terug te trek
# En, motorsport: Verstappen is onder die loep in Sao Paulo
# President Cyril Ramaphosa het die nuutverkose president van Botswana, Duma Boko, en die regering en mense van die land gelukgewens met die suksesvolle verkiesing wat pas afgehandel is. Die woordvoerder van die president, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa loof die Umbrella for Democratic Change-koalisie vir sy sukses onder Boko se leierskap en verwelkom die uittredende president Mokgweetsi Masisi se voorbereidings vir die oorgang na 58 jaar aan bewind deur die Botswana Democratic Party:
# ActionSA sal die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, formeel vra om die besluit te hersien om die korrupsie-aanklagte teen die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, terug te trek. Kodwa is aangekla dat hy omkoopgeld van 1,7-miljoen-rand ontvang het om die toekenning van winsgewende regeringskontrakte te beïnvloed. Athol Trollip van ActionSA sê die party sal die besonderhede van die besluit eis wat gelei het tot die skielike ommeswaai:
In nog ‘n verwikkeling het die ANC het die Vervolgingsgesag se besluit verwelkom om alle aanklagte teen Kodwa terug te trek. Kodwa het in Junie vrywillig opsy gestaan ingevolge die ANC se resolusies oor vernuwing en integriteit, om deursigtigheid en aanspreeklikheid te waarborg. Die direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng, Andrew Chauke, het die saak laat vaar nadat hy nuwe bewyse ontvang het. Die ANC het weereens sy verbintenis tot geregtigheid en die oppergesag van die reg bevestig, en bly daartoe verbind om regverdige en deursigtige geregtelike prosesse te ondersteun wat die publiek se vertroue in sy leierskap versterk.
# Die Amerikaanse presidensiële kandidaat Donald Trump het CBS News gedagvaar oor ‘n onderhoud met vise-president Kamala Harris op die program 60 Minutes. Hy eis tien-miljard-dollar by die netwerk, en beweer daar is aan die onderhoud gepeuter. Dit is ten spyte van CBS se verduideliking oor waarom twee snitte met verskillende antwoorde uitgesaai is. Trump het tydens ‘n saamtrek in Nevada gesê “we’re gonna have to lock them up“, ná wat hy ‘n misleidende onderhoud met sy mededinger noem. Die saak is in ‘n hof in Texas aanhangig gemaak.
# En, motorsport: Die driemalige wêreldkampioen Max Verstappen is die naweek by die Sao Paulo Grand Prix onder groot druk om sy reputasie en sy voorsprong in die bestuurders-wêreldkampioenskap te verdedig. Sy bestuurstegniek het gelei tot beroepe vir regulasieveranderings. Verstappen bly egter uitdagend, en skryf sy aggressiewe styl toe aan hoe die motor presteer en teenstrydig besluite deur baanbeamptes. George Russell van Mercedes sê 19 van die 20 jaers is ten gunste van ‘n verandering. Die voormalige kampioen Damon Hill sê dit sal ‘n einde bring aan Verstappen se taktiek om sy motor as ‘n wapen te gebruik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….