Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi gaan die terugtrek van aanklagte teen Zizi Kodwa hersien
# Giwusa vra ‘n oudit te midde van groeiende kommer oor openbare skuld
# En, sokker: Ruben Amorim is aangestel as Manchester United-bestuurder
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, gaan die besluit van die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng, Andrew Chauke, hersien om die aanklagte teen voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en sy medebeskuldigde, die sakeman, Jehan Mackay, te laat vaar. Hierdie besluit het gevolg op ‘n versoek deur die Valke en vertoë wat namens die beskuldigdes ingedien is. Batohi is kragtens die Grondwet gemagtig om sulke besluite te hersien nadat sy met Chauke geraadpleeg het en insette van betrokke partye oorweeg het. Batohi sal die regsprosedures volg en binnekort haar bevindings bekend maak.
# Die vakbond vir algemene nywerhede, Giwusa, sê ‘n omvattende skuldoudit is noodsaaklik te midde van stygende openbare skuldvlakke. Die vakbond kritiseer die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se fokus op die gereelde terugbetaling van skuld, eerder as om openbare dienste te verbeter, wat streng besparingsmaatreëls veroorsaak het. Koketso Phasha van Giwusa bepleit die verhoging van korporatiewe belastingkoerse om die skuldlas te help verlaag en voldoende befondsing vir staatsdienste te verseker:
# ‘n Agtienjarige wat vir ondervraging aangekeer is na die verkragting van vyf vroue in Mqhekezweni in die Oos-Kaap vroeër die week, is vrygelaat. Hy was ook betrek by die moord op ‘n tradisionele leier se skoonma. ‘n Polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê hulle het nie genoeg bewyse gehad om die tiener te arresteer nie:
# Gesprekke tussen die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, en sy eweknie van Noord-Korea, Choe Son Hui, het vandag in Moskou begin, te midde van vrese dat Pjongjang se troepe in die Oekraïne-konflik aangewend sal word. Geeneen van Moskou of Pjongjang ontken Westerse bewerings dat duisende Noord-Koreaanse troepe in Rusland aangekom het nie. Amerika sê agt-duisend Noord-Koreaanse soldate kry opleiding in Rusland en kan ontplooi word om in Oekraïne te veg.
# Sokker: Ruben Amorim is Manchester United se nuwe bestuurder. Die 39-jarige is tans bestuurder van Sporting en verhuis op 11 November uit Lissabon na Old Trafford. Sy kontrak is geldig tot Junie 2027. Die voormalige doelskieter van United, Ruud van Nistelrooy, neem op ‘n tussentydse basis waar nadat Erik ten Hag Maandag afgedank is en sal vir die volgende drie wedstryde aanbly. Die BBC berig Amorim is die sesde permanente bestuurder wat United aanstel sedert Alex Ferguson se bewind van 26 jaar met sy uittrede in 2013 geëindig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-869-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-756-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….