Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vervolgingsgesag sê om aanklagte teen Kodwa en Mackay te laat vaar was in belang van geregtigheid
# Die DA herhaal sy verwerping van die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer
# En, rugby: Skotland sluit drie gebore Suid-Afrikaanse spelers in teen Fidji
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê omstandighede wat ‘n invloed gehad het op die saak teen die voormalige minister van Sport, Zizi Kodwa, en voormalige direkteur van EOH, Jehan Mackay, het verander. NVG-woordvoerder, Phindi Mjonondwane, het buite die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge bevestig die Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, het die vervolging na suksesvolle vertoë laat vaar en beklemtoon die besluit is billik en in belang van geregtigheid:
# Die DA het sy verwerping van die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer herhaal en sê dit sal slegs Suid-Afrikaners se vermoë belemmer om hulleself te beskerm. Die wetsontwerp stel ‘n beperking voor op die hoeveelheid ammunisie wat ‘n gelisensieerde vuurwapeneienaar in besit mag hê. Ofentse Mokae van die DA sê hulle doen ook ‘n beroep vir ‘n nasionale vuurwapenoudit van alle polisiekantore in die land want jaarliks word meer as 700 vuurwapens gesteel of verdwyn:
# Suid-Afrika beplan om die reëls vir swartbemagtiging te hersien wat van buitelandse ondernemings vereis om eienaarskap van 30-persent aandele aan histories-benadeelde groepe toe te ken. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, erken hierdie vereistes skep uitdagings vir buitelandse beleggers. Te midde van toenemende spanning in wêreldhandel het hy die noodsaaklikheid beklemtoon om handelsbande binne Afrika en met China, die land se grootste handelsvennoot, te versterk. Die hersienings moet buitelandse beleggings bevorder terwyl streeksintegrasie deur die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied verbeter word.
# Rugby: Drie gebore Suid-Afrikaanse spelers is in Skotland se wedstrydgroep ingesluit vir môre se kragmeting teen Fidji op Murrayfield. Loskopstut Pierre Schoeman en linkervleuel Duhan van der Merwe begin albei en haker Dylan Richardson sal waarskynlik sy vierde toets van die bank af speel. Intussen sal Darcy Graham die eerste keer in meer as ’n jaar vir Skotland speel nadat hy in die opdrafspan ingesluit is. Senter Sione Tuipulotu sal Skotland die eerste keer aanvoer sedert hy as kaptein aangewys is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-445-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-749-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-13-sent per vat.
# Ten slotte: Mauritius het toegang tot sosiale media geblok enkele dae voor ‘n algemene verkiesing, met toenemende spanning oor ‘n afluister-skandaal. Omstredenhede is volop op die eiland sedert geheime opnames van telefoonoproepe deur politici, joernaliste, lede van die burgerlike samelewing en selfs buitelandse diplomate verlede maand aanlyn uitgelek het. Die eerste minister, Pravind Kumar, sê internetdiensverskaffers is beveel om toegang tot sosiale netwerke wat die meeste gebruik word te blok tot 11 November, ‘n dag ná die verkiesing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….