Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrupsie-aanklagte word teruggetrek teen Zizi Kodwa en Jehan Mackay
# Masisi van Botswana erken die nederlaag van sy party wat sedert 1966 aan bewind was
# En, rugby: Engeland se kaptein verdedig die All Blacks se haka
# Aanklagte van bedrog en korrupsie teen die voormalige minister van Sport, Zizi Kodwa, en die voormalige direkteur van EOH, Jehan Mackay, is na vertoë van albei beskuldigdes, teruggetrek. Die staat het die besluit van die Direkteur van Openbare Vervolging in die Landdroshof in Palm Ridge bekendgemaak. Kodwa, wat vroeër daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van 1,6-miljoen-rand aanvaar het, sê hy is van blaam gesuiwer. Hy sal weer sy posisie in die ANC inneem:
# Die Nasionale Skuilingbeweging van Suid-Afrika doen ‘n beroep op die regering om rehabilitasiedienste vir geslagsgeweld omvattend te befonds en te ondersteun, om oorlewendes te help om hul lewe te herbou. Zubeda Dangor van die beweging sê die koers van geslagsgeweld bly ontstellend hoog en meer as 51-persent van vroue in die land is ten minste een keer in hul lewe aangeval. Sy sê hulpbronne vir skuilings en rehabilitasiedienste is gevaarlik min weens die voortgesette vermindering van befondsing:
# Die EFF verwelkom die besluit van die reëlskomitee van die Nasionale Vergadering om ’n stap te aanvaar om ’n portefeuljekomitee vir toesig oor die Presidensie tot stand te bring. Die besluit word deur die meerderheid politieke partye gesteun, met die uitsondering van ANC en die IVP, en sal parlementêre meganismes versterk om die uitvoerende gesag, veral die president, aanspreeklik te hou. Die EFF sê die komitee het verder ingestem om ’n versoekskrifkomitee te vorm en hersiene weergawes in te stel as meganismes om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.
# Botswana se president het sy party, wat sedert 1966 regeer, se nederlaag in die algemene verkiesing erken. Mokgweetsi Masisi sê hy het reeds met die leier van die linksgesinde Umbrella for Democratic Change, die Harvard-opgeleide menseregteprokureur, Duma Boko, gepraat oor die reëlings vir die oorhandiging van die regering. Daar is nou meer as 22 parlementslede by, wat, as dit by die aantal van twee ander opposisiepartye gevoeg word, meer as 31 van die 61 setels wat op die spel was verseker. Die uitslag sal na verwagting later vandag bevestig word.
# Rugby: Die kaptein van Engeland, Jamie George, sê hy hou van die geskiedenis van die haka nadat sy spanmaat, Joe Marler, gesê het Nieu-Seeland behoort hulle ritueel voor wedstryde te staak. Met die twee ou aartsvyande wat môremiddag in Twickenham sake uitspook, het Marler, wat nie in Engelse span ingesluit is nie, die haka as belaglik beskryf. Hy het later om verskoning gevra. George het gister gereageer en sê hy het nog altyd die Maori ritueel geniet en was gelukkig genoeg om dit ‘n paar keer in die gesig te staar. Die toets skop net na vyf-uur, Suid-Afrikaanse tyd, af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-358-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-753-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….