Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Babalwa Lobishe van die ANC word ingehuldig as Nelson Mandelabaai se nuwe burgemeester
# Die beweerde baasbrein in die Lusikisiki-moorde gaan homself verteenwoordig in die hof
# En, krieket: Die eerste nasionale oproep vir ‘n veelsydige speler van die Westelike Provinsie
# Babalwa Lobishe van die ANC is nou burgemeester van Nelson Mandelabaai en volg die president van die National Alliance, Gary van Niekerk, op wat terugtree en die onderburgemeestersrol aanvaar. Albei leiers het bedank om die leierskapruiling te vergemaklik, wat die ANC in staat stel om die metro te lei. Van Niekerk het gerugte van konflik in die koalisie ontken. Lobishe sê dis nodig vir bestendigheid en bestuur wat op die inwoners fokus:
# Die vermeende baasbrein in die Lusikisiki-massamoorde in die Oos-Kaap, Mzukisi Ndamase, het aan die plaaslike Landdroshof gesê hy sal homself verteenwoordig en het staatsregshulp geweier. Ndamase, wat tans lewenslange tronkstraf uitdien, is gister in die Ebongweni Maksimum Korrektiewe Sentrum in hegtenis geneem nadat hy na bewering die moorde op 18 mense vanuit die tronk beplan het. Die saak is tot 29 November uitgestel vir verdere ondersoek. Luxolo Tyali van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle het ‘n sterk saak teen Ndamase:
# ‘n Verslag van die Europese Unie vir Geo-wetenskappe waarsku dat die bereiking van netto-zero in die volgende paar dekades nie aardverwarming onmiddellik sal stop nie. Globale kweekhuisgas-uitlatings het in 2023 rekordhoogtes bereik en die aarde het terselfdertyd sy warmste jaar beleef. Lande wat deel is van die Paryse Klimaatsooreenkoms mik om netto-zero teen 2050 te bereik. Die verslag toon dat die vertraging van netto-zero met vyf jaar sal lei tot ‘n hoër gemiddelde globale oppervlaktemperatuur en see-ys vir honderde jare sal verminder.
# Krieket: Die veelsydige speler van Westelike Provinsie, Mihlali Mpongwana, is die eerste keer in die nasionale groep ingesluit toe die witbal-afrigter, Rob Walter, sy groep van 16 spelers aangekondig het vir volgende maand se tuisreeks van vier T20’s teen Indië. Hy het van die meeste paaltjies laat kantel in vanjaar se T20-uitdaging. Snelbouler Kagiso Rabada kry ‘n blaaskans terwyl Gerald Coetzee en Marco Jansen terugkeer na hulle verpligte kondisionering. Die eerste T20 is volgende Vrydag op Kingsmead in Durban, gevolg deur kragmetings in Gqeberha, Centurion en op die Wanderers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-233-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-753-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Barbie het sy eerste pop met ‘n Diwali-tema in Suid-Afrika bekend gestel wat in samewerking met die gevierde Indiese ontwerper, Anita Dongre, geskep is. Vandag is Diwali, die fees van ligte. Huise, sakeondernemings, en openbare ruimtes word verlig met diyas, of olielampe wat van klei gemaak is en vuurwerkvertonings word oral gehou. Die Barbie Diwali-pop is getooi in die kenmerkende Moonlight Bloom-kledingstukke en dit kombineer moderne estetika met tradisionele Indiese ontwerpelemente. Die pop is by uitgesoekte handelaars in Suid-Afrika beskikbaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….