Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beweerde baasbrein in die Lusikisiki-moorde gaan homself verteenwoordig in die hof
# Die stigter van TikTok is nou China se rykste persoon
# En, gholf: ‘n Jong Australiese ster beloof om terug te keer nadat hy die sig in een oog verloor
# Die vermeende baasbrein in die Lusikisiki-massamoorde in die Oos-Kaap, Mzukisi Ndamase, het aan die plaaslike Landdroshof gesê hy sal homself verteenwoordig en het staatsregshulp geweier. Ndamase, wat tans lewenslange tronkstraf uitdien, is gister in die Ebongweni Maksimum Korrektiewe Sentrum in hegtenis geneem nadat hy na bewering die moorde op 18 mense vanuit die tronk beplan het. Die saak is tot 29 November uitgestel vir verdere ondersoek. Luxolo Tyali van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle het ‘n sterk saak teen Ndamase:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik versoek die regering om befondsing vir sleutelliggame teen korrupsie, soos die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid, te vergroot. Hulle waarsku ‘n gebrek aan toesig in openbare-private vennootskappe kan aanleiding gee tot vermorste belastingbetalersgeld en ondoeltreffendheid. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, kritiseer die mediumtermyn-begrotingsrede van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, omdat dit nie voorrang gee aan die stryd teen korrupsie en finansiële wangedrag nie:
# China het ‘n nuwe rykste persoon, die entrepreneur agter die supergewilde en omstrede toepassing, TikTok. Die 41-jarige Zhang Yiming se rykdom is nou gelykstaande aan 856-miljard-rand. TikTok het sedert sy ontstaan in Mei 2017 ontpop as ‘n era-spesifieke sosiale media-platform met miljoene jong aanhangers oral in die wêreld. Zhang se opgang tot bo aan China se lys van rykste mense in 2024 het die koning van bottelwater, Zhong Shanshan, die eerste keer in drie jaar onttroon. Hy is tweede, met die stigter van Tencent, Pony Ma, in die derde plek.
# Gholf: ‘n Jong opkomende Australiese ster het onderneem om voort te speel nadat hy na ‘n fratsongeluk die sig in sy linkeroog verloor het. ‘n Bal het die 20-jarige Jeffrey Guan verlede maand tydens ‘n toernooi in die gesig getref en sy wangbeen en oogkas gekraak. Die Australiese PGA sê hy het die sig in sy oog permanent verloor. Guan het onlangs ‘n kontrak onderteken met dieselfde maatskappy wat die Major-wenners, Jon Rahm en Phil Mickelson, bestuur. Hy erken hy is op moedverloor se vlakte, maar onderneem om terug te keer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-22-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-769-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde aktrise Charlize Theron werk saam met die Suid-Afrikaanse skrywer, akteur en filmvervaardiger, Thabo Rametsi en sy sakevennoot, Thabiso Mabanna, aan ‘n nuwe strokiesboekreeks, Imbokodo. Die reeks vereer bekende krygsvroue van Afrika en sluit Shaka Zulu se ma, koningin Nandi, en koningin Nzinga van Angola in. Theron was by die projek betrokke deur haar mediamaatskappy, Secret Menu. Rametsi sê die projek is nie net om ʼn strokiesreeks na lesers te bring nie, maar om Afrika-mitologie en -geskiedenis te verewig op ʼn manier wat vir mense wêreldwyd toeganklik is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….