Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Veelparty-span bekyk betwiste klousules in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette
# OUTA sê openbare-private vennootskappe skep probleme sonder toesig, omdat begrotings teen korrupsie kleiner word
# En, krieket: Die Proteas klop Bangladesj met ‘n beurt en 273 lopies om die reeks 2-0 te beklink
# ‘n Span bestaande uit verskillende partye is saamgestel om kommer aan te pak oor twee omstrede klousules in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Dié besluit is geneem op ‘n vergadering van die regering van nasionale eenheid. Die span sluit in die adjunkminister van Justisie, Andries Nel, Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus, Hellen Zille van die DA en Mdumiseni Ntuli van die ANC. Hulle het twee weke om terugvoer te gee, met die fokus op ‘n oplossing wat alle burgers bevoordeel en samewerking bo partypolitieke belange stel.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik versoek die regering om befondsing vir sleutelliggame teen korrupsie, soos die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid, te vergroot. Hulle waarsku ‘n gebrek aan toesig in openbare-private vennootskappe kan aanleiding gee tot vermorste belastingbetalersgeld en ondoeltreffendheid. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, kritiseer die mediumtermyn-begrotingsrede van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, omdat dit nie voorrang gee aan die stryd teen korrupsie en finansiële wangedrag nie:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging is verlig oor die regering se besluit om alle verhogings in die gesondheid-bevorderingsheffing, algemeen bekend as die suikerbelasting, te bevries. Hy sê hierdie bevriesing is deurslaggewend om werksgeleenthede in die landbousektor te beveilig, veral in die landelike gebiede van Mpumalanga en KwaZulu-Natal, waar die suikerbedryf ‘n belangrike rol speel. Die vereniging se voorsitter, Higgins Mdluli, waarsku ‘n belastingverhoging sou nog ‘n bedreiging vir werksbestendigheid wees, nadat die suikerbelasting reeds aansienlike werkverliese veroorsaak het sedert dit ingestel is.
# Die DA dring aan op ‘n forensiese oudit van die finansies van diie Johannesburgse Eiendomsmaatskappy nadat verklikkers ernstige bewerings van wangedrag deur senior amptenare aangemeld het. Kwessies sluit in seksuele teistering, viktimisering van personeel en die versuim om werknemers se salarisse te betaal. DA-woordvoerder, Belinda Kayser-Echeozonjoku, beweer hierdie kwessies dateer sover terug as 2020 en die stad se administrasie het nie behoorlik daaraan aandag gegee nie:
# Krieket: Suid-Afrika het Bangladesj in die tweede toets in Chattogram verneder om die reeks 2-0 te beklink. Die gashere moes op die derde oggend opvolg na ‘n eerstebeurt-agterstand van 416 lopies nadat die Proteas gister op 575 vir ses verklaar het. Die paaltjies het weer feitlik onmiddellik begin val en die span is uitgeboul vir slegs 143, wat aan die Proteas ʼn oorwinning met ʼn beurt en 273 lopies besorg het. Keshav Maharaj het vyf paaltjies geneem nadat Kagiso Rabada dieselfde reggekry het in Bangladesj se eerste beurt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-165-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-781-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….