Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Een persoon het gister se Lotto-boerpot gewen en is nou 103,6-miljoen-rand ryker. Die wenner, wat nog geïdentifiseer moet word, het al ses nommers reg gehad. Die operateur van die Nasionale Lotery, Ithuba, sê die boerpot was die tweede grootste ooit wat in Suid-Afrika aangeteken is, na die prys van 110-miljoen-rand wat vier deelnemers in Januarie 2018 gedeel het. Wanneer die volgende Lotto-trekking Saterdag plaasvind, sal die boerpot na raming drie-miljoen-rand wees.
# Die bekroonde aktrise Charlize Theron werk saam met die Suid-Afrikaanse skrywer, akteur en filmvervaardiger Thabo Rametsi en sy sakevennoot, Thabiso Mabanna, aan ‘n nuwe strokiesboekreeks, Imbokodo. Die reeks vereer bekende krygsvroue van Afrika en sluit Shaka Zulu se ma, koningin Nandi, en koningin Nzinga van Angola in. Theron was by die projek betrokke deur haar mediamaatskappy, Secret Menu. Rametsi sê die projek is nie net om ʼn strokiesreeks na lesers te bring nie, maar om Afrika-mitologie en -geskiedenis te verewig op ʼn manier wat vir mense wêreldwyd toeganklik is.
# Die vasmeer van die World Odessey in die Tafelbaaise hawe beteken dit is die begin van Suid-Afrika se 2024/’25-plesiervaartseisoen. Die passasierskip, wat onder Bahama se vlag vaar, het sowat 538 internasionale toeriste aan boord. Transnet se Nasionale Haweowerheid sê hy is gereed om 268 passasierskepe by die land se sewe kommersiële hawens te hanteer. Dit is ‘n toename van 29-persent teenoor die vorige jaar se 207 besoeke. Die owerheid sê Suid-Afrika se hawens is sleutelaandrywers van ekonomiese groei en poorte tot internasionale handel.
# Barbie het sy eerste pop met ‘n Diwali-tema in Suid-Afrika bekend gestel wat in samewerking met die gevierde Indiese ontwerper, Anita Dongre, geskep is. Vandag is Diwali, die fees van ligte. Huise, sakeondernemings, en openbare ruimtes word verlig met diyas, of olielampe wat van klei gemaak is en vuurwerkvertonings word oral gehou. Die Barbie Diwali-pop is getooi in die kenmerkende Moonlight Bloom-kledingstukke en dit kombineer moderne estetika met tradisionele Indiese ontwerpelemente. Die pop is by uitgesoekte handelaars in Suid-Afrika beskikbaar.
# En ten slotte: China het ‘n nuwe rykste persoon, die entrepreneur agter die supergewilde maar omstrede toepassing, TikTok. Die 41-jarige Zhang Yiming se rykdom is nou gelykstaande aan 856-miljard-rand. TikTok het sedert sy ontstaan in Mei 2017 ontpop as ‘n era-spesifieke sosiale media-platform met miljoene jong aanhangers oral in die wêreld. Zhang se opgang tot bo aan China se lys van rykste mense in 2024 het die koning van bottelwater, Zhong Shanshan, die eerste keer in drie jaar onttroon. Hy is tweede, met die stigter van Tencent, Pony Ma, in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….