Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, het ‘n opvolgbeurt afgedwing na hulle eerstebeurt-voorsprong van 416 lopies in die tweede toets teen Bangladesj in Chattogram. Die tuisspan het op 38 vir vier hervat nadat Suid-Afrika gister sy beurt op 575 vir ses gesluit het. Kagiso Rabada het vinnig drie paaltjies by sy twee van gister gevoeg en Keshav Maharalj het nog een laat kantel voor Mominul Haque en Taijul Islam die boulers gefrusteer het met ‘n vennootskap van 103 lopies om die negende paaltjie. Bangladesj is uiteindelik uitgeboul vir 159. ‘n Kort rukkie gelede was die telling 78 vir sewe.
# Vervolgens, hokkie: Cheslyn Gie het bedank as afrigter van Suid-Afrika se nasionale manspan. Die span het onder sy leierskap die eerste FIH-nasiesbeker in Potchefstroom gewen en vir die Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer, waar hulle negende gekom het. SA Hokkie se tussentydse uitvoerende hoof, Shaune Baaitjies, sê Gie se toewyding het die mans se program voortgedryf en sy invloed sal nog jare lank gevoel word. Baaitjies sê Gie het ‘n nuwe standaard gestel vir die span se sukses.
# Ons kom by rugby: Nompumelelo Mathe en Leigh Fortuin is twee nuwelinge in die Springbok Vroue-sewesspan vir die Afrika Vroue-sewestoernooi wat volgende naweek in Ghana plaasvind. Die drie top spanne sal kwalifiseer vir Wêreldrugby se uitdaagreeks. Suid-Afrika kom in hulle eerste wedstryd teen Burkina Faso te staan voor hulle sake uitspook met Zimbabwe en Tunisië in Groep A. Die hoofafrigter, Renfred Dazel, sê Mathe en Fortuin het ‘n groot indruk gemaak sedert hulle aansluiting by die oefenkamp:
Nog rugby: Die Engelse stut Joe Marler het hom die argwaan van All Blacks-ondersteuners op die hals gehaal deur te vra dat die geskiedkundige Haka laat vaar moet word. Engeland speel Saterdag op Twickenham teen Nieu-Seeland. Marler beskryf die tradisionele Maori-oorlogsdans wat uit 1905 terugdateer as belaglik, en meen dit dien net ‘n doel wanneer spanne daarop reageer. Die Springbokke het tydens vanjaar se Rugbykampioenskapstoetse teen die All Blacks gesê hulle het nog altyd die Haka gerespekteer. Engeland het nog net agt van sy 45 toetse teen Nieu-Seeland gewen.
# Ons sluit af met sokker: Die Europese beheerliggaam, Uefa, het meer as 19-miljard-rand beloof om die vrouespel die volgende ses jaar op die vasteland te ontwikkel. Die geld kom van kompetisie-inkomste en beleggings. Uefa sê dit sal gaan aan klubs, nasionale spanne, senior en jeug-kompetisies met die doel om teen 2030 vyf-duisend beroepspelers en ses beroepsligas te hê. Reuters berig die besturende direkteur vir vroue-sokker, Nadine Kessler, sê die vrouespel het ‘n sport vir die massas geword wat ‘n immergroeiende en uiteenlopende aanhangergroep lok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….