Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika nader voldoening aan die vereistes om van die gryslys verwyder te word
# John Steenhuisen sê die minibegroting is die regte diagnose om fiskale groei reg te ruk
# En Suid-Afrika se mielie-oes sal na verwagting ‘n daling van 22,6-persent vir die 2023/’24-seisoen toon
# Suid-Afrika is is ‘n stappie nader om aan die vereistes van die Finansiële Aksie-taakspan te voldoen om finansiële misdaad soos geldwassery en die finansiering van terrorisme te bekamp. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in sy eerste minibegrotingsrede van die sewende administrasie gesê net ses items moet teen Februarie volgende jaar aandag kry, want daar word reeds volledig of gedeeltelik aan 16 van die 22 vereistes voldoen:
Die leier van die DA en minister van Landbou, John Steenhuisen, onderskryf intussen die minibegroting en beskryf dit as die regte stap na fiskale groei. Hy was buite die Parlement vol lof vir die fokus op skuldvermindering, infrastruktuurbesteding, die staking van reddingsboeie vir staatsbeheerde instellings en die einde van die e-tolstelsel. Steenhuisen benadruk die DA se rol om hervormings deur die regering van nasionale eenheid te voer deur ekonomiese groei en werkskepping:
# Suid-Afrika se mielie-oes sal na verwagting ‘n aansienlike daling van 22,6-persent vir die 2023/’24-seisoen toon. Die regering se Oesskattingskomitee voorspel ‘n algehele oes van ongeveer 12,72-miljoen-ton, ‘n merkbare afname vanaf 16-miljoen-ton verlede jaar. Dit is ‘n effense afname vanaf die vorige skatting van 12,8-miljoen-ton. Vanjaar se opbrengs sluit ses-miljoen-ton wit mielies vir menslike gebruik in, en 6,72-miljoen-ton geel mielies hoofsaaklik vir veevoer. Die komitee gee geen verduideliking oor die laer oes vanjaar nie, wat kommer laat ontstaan oor voedselvoorsiening.
# Die Universiteit van Limpopo het die jaareindeksamen tydelik opgeskort weens watervoorsieningskwessies. Die visekanselier en hoof, professor Mahlo Makgolong, het na onhigiëniese toestande verwys en kommer uitgespreek oor die gesondheid en welstand van personeel en studente. Die universiteit gee die versekering dat die situasie gemonitor sal word. ‘n Hersiene rooster sal mettertyd bekendgemaak word.
# Padwedlope: Johannesburg bied Sondag die Soweto-marathon aan, wat wedlope oor 42-, 21- en 10-kilometer behels. Dit begin die oggend half-ses by Nasrec en die roetes raak hoofpaaie soos die Soweto-hoofweg, Chris Hani-weg en Vilakazi-straat. Xolani Fihla van die Johannesburgse Metropolisie sê hulle sal padsluitings bestuur en verkeer dophou. Hy vra die publiek om saam te werk om van die geleentheid ‘n sukses te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-224-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-779-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….