Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse premier beloof strenger regulasies vir spaza-winkels ná die vergiftigingsvoorvalle
# Meer as 50 mense sterf in onverwagte oorstromings in Spanje
# En, krieket: Die Proteas verklaar op 575 vir ses na drie honderdtalle in hulle eerste beurt teen Bangladesj
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het beloof om regulasies vir spaza-winkels te versterk nadat ses kinders in Naledi, Soweto, dood is weens besmette kos. Lesufi het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor sy 100-dae in die sewende administrasie. Hy het ook aangekondig voedselinspekteurs sal oor die hele provinsie ontplooi word om veiligheidstandaarde en die behoorlike registrasie van spaza-winkels te verseker om toekomstige voorvalle te voorkom:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, het ‘n aksieplan van 100-dae bekendgestel om die finansiële en diensleweringskrisis in die stad aan te pak. Sleuteldoelwitte sluit in finansiële bestendigheid, ekonomiese herlewing, infrastruktuurontwikkeling, billike dienslewering, toepassing van verordeninge en verbeterde gemeenskapsbetrokkenheid. Volgens haar beloop die totale skuld van die stad elf-miljard-rand, met ses-miljard-rand wat aan Eskom verskuldig is:
# Die GOOD-party het die Stad Kaapstad dringend versoek om aan die publiek toegang te verleen tot sy komitee oor Munisipale Openbare Rekeninge. Die publiek word oor die algemeen veral nie by taakspanvergaderings toegelaat waar sake ondersoek word nie. Chad Davids van GOOD sê syfers deur Africa Watch toon dat meer as 900 gevalle van bedrog en korrupsie by die metro aangemeld is. Hy sê dit is noodsaaklik dat raadslede die vlak van openbare toegang tot die sake ondersoek:
# Meer as 50 mense is dood in kitsvloede in die omgewing van Valencia in Suidoos-Spanje en talle word vermis. Dit het gevolg nadat stortreën en haelstorms paaie en dorpe oorstroom, voertuie weggespoel en geboue beskadig het. Mense is aangeraai om tuis te bly en slegs in noodgevalle te reis. Volgens die Spaanse Weerdiens is altesaam 491-millimeter reën binne agt uur in die streek aangeteken. Dit is gelykstaande aan ‘n hele jaar se reën.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Aiden Markram, het verklaar op 575 vir ses nadat die besoekers drie honderdtalle aangeteken het in die eerste beurt van die tweede toets teen Bangladesj in Chattogram. Wiaan Mulder het sy eerste honderdtal op die tweede middag behaal nadat Tony de Zorzi 177 bygedra het en Tristan Stubbs 106. Mulder en Senuran Muthusamy het ’n onoorwonne vennootskap van 152 lopies om die sewende paaltjie behaal met Muthusamy se bydrae 70. Taijul Islam het vyf paaltjies geneem. Bangladesh het teen uitskeityd gesteier op 38 vir vier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-275-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-780-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….