Nuus 1300
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n AbaThembu-hoof is vermoor en vyf matriekleerders verkrag in die Oos-Kaap
# Sokker: Fifa stel ‘n taakspan aan om die volgepakte kalender te bekyk
# En, ‘n onbekende wals van Chopin word na byna 200-jaar in ‘n biblioteek se kluis gevind
# Die Oos-Kaapse polisie soek na verdagtes wat betrokke was by die noodlottige skietery van die AbaThembu-hoof, inNkosi Nogcinile Mtirara, by die Mqhekezweni Groot Plek in Mthatha. Die motief vir die skietery is nog onbekend. In nog ’n voorval is vyf matriekleerders in Bityi, Mthatha, verkrag. Polisiewoordvoerder Siphokazi Mawisa sê hulle het in ‘n huurhuis gebly terwyl hulle vir hul eksamen voorberei toe hulle aangerand is:
# Die Stad Tshwane sê hy sal sommige reservoirs beperk om ander te steun wat sukkel om te stabiliseer en aan die vraag te voldoen. Rand Water pomp tans sowat 800-miljoen liter water per dag na Tshwane, maar moet eintlik net 662-miljoen liter per dag voorsien. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê daar sal geen water na die betrokke reservoirs vloei nie:
# Duitsland en die Europese Unie veroordeel Iran se teregstelling van ‘n 69-jarige Duits-Iranse andersdenkende na jare agter tralies en waarsku hulle oorweeg vergeldingsmaatreëls. Kanselier Olaf Scholz sê Jamshid Sharmahd se teregstelling is ‘n skandaal, Die minister van Buitelandse Sake, Annalena Baerbock, waarsku wat sy beskryf as die onmenslike regime van ernstige gevolge. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, antwoord op X ‘n Duitse paspoort vrywaar niemand van vergelding nie, veral nie ‘n terroristiese misdadiger nie. Die sagteware-ingenieur was betrokke by die webwerf van ‘n Iranse opposisiegroep.
# Sokker: Arsenal se gewese hoofafrigter, Arsene Wenger, is aangewys om die wêreldbeheerliggaam Fifa se taakspan aan te voer wat die volgepakte kalender se uitwerking op spelers se welsyn moet bekyk. Dit volg nadat voorste Europese klubs en die spelersliggaam Fifpro ‘n regsklagte by die Europese Kommissie ingedien het waarin Fifa beskuldig word dat hy sy oorheersing oor die kalender misbruik. Die vakbond is ingesluit in die taakspan. Fifa sê dit moet vasstel hoe geskikte, doeltreffende veiligheidsmaatreëls vir spelers ingestel kan word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-385-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-781-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Onbekende wals wat Chopin byna 200-jaar gelede gekomponeer het, is ontdek in die kluis van die Morgan-biblioteek en -museum in New York. New York Times berig ‘n kurator het afgekom op die werk op ‘n kaart met Frédéric Chopin se naam daarop geskryf. Die Poolse komponis is in 1849 op 39-jarige ouderdom dood, en nuut-ontdekte werke van hom is skaars. Sy hart word in versterkwater bewaar in ‘n kerk in Warskou. Die museum glo die musiek dateer uit tussen 1830 en 1835.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….