Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met netbal: Die Proteas se nuwe hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê sy sien uit om uiteindelik haar termyn op dreef te kry. Kaptein Khanyisa Chawane sal Suid-Afrika aanvoer wanneer hulle van môre tot Sondag in Johannesburg teen Malawi te staan kom in ‘n reeks van drie toetse. Die Proteas is tans vyfde op die wêreldranglys en Malawi sewende. Van Dyk sê dis ‘n baie belangrike reeks vir hulle:
# Vervolgens, sokker: Die Afrika-kampioen, Banyana Banyana, het met twee-een teen die Europese kampioen, Engeland, verloor in ʼn vriendskaplike wedstryd in Coventry. Kaptein Leah Williamson, wat in haar 50ste wedstryd vir die Lionesses uitgedraf het, en Grace Clinton se doele in die eerste helfte het die gasvroue se oorwinning beklink. Thembi Kgatlana het Suid-Afrika se troos-doel aangeteken. Dit was dié twee spanne se eerste ontmoeting sedert die Siprusbeker-toernooi in Februarie 2010.
Nog sokker: Arsenal se gewese hoofafrigter, Arsene Wenger, is aangewys om die wêreldbeheerliggaam Fifa se taakspan aan te voer wat die volgepakte kalender se uitwerking op spelers se welsyn moet bekyk. Dit volg nadat voorste Europese klubs en die spelersliggaam Fifpro ‘n regsklagte by die Europese Kommissie ingedien het waarin Fifa beskuldig word dat hy sy oorheersing oor die kalender misbruik. Die vakbond is ingesluit in die taakspan. Fifa sê dit moet vasstel hoe geskikte, doeltreffende veiligheidsmaatreëls vir spelers ingestel kan word.
# Nou rugby: Die Ierse klub Munster het die onmiddellike vertrek van hoofafrigter Graham Rowntree aangekondig. Die gewese voorspeler van Engeland en Leicester Tigers het die span gehelp om die Verenigde Rugbykampioenskapstitel in te palm in sy eerste seisoen in 2022/’23, maar hulle sukkel dié seisoen. Munster is tans twaalfde op die punteleer na slegs twee oorwinnings in die eerste ses wedstryde. Die hoof van rugby-operasies, Ian Costello, neem Rowntree se pligte oor terwyl die klub ‘n nuwe hoofbreier soek.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, gaan nie meer deelneem aan die Paryse Meesterstoernooi nie. Hy sou vandag sy eerste wedstryd speel, maar het gister aangekondig ‘n virus in die ingewande hou hom uit die toernooi. Sinner word vervang deur die plaaslike kwalifiseerder Arthur Cazaux. Hy is reeds verseker van die nommer een-posisie aan die einde van die seisoen. Sinner beplan nog om volgende maand aan die ATP-eindtoernooi in Turyn in sy vaderland deel te neem, en aan die Davisbeker-eindtoernooi in Málaga, Spanje.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….