Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n oudit van die plan om Sandtonrylaan se naam te verander weens bewerings van bedrog
# ‘n Man van Klawer word Maandag gevonnis vir die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk
# En, netbal: Die Protea-afrigter is opgewonde oor die toetsreeks teen Malawi
# Die DA in Johannesburg vra planne vir die verandering van die naam van Sandton-rylaan ter ere van die Palestynse militant Leila Khaled, moet onmiddelik beëindig word weens moontlike grootskaalse bedrog. Die party se kiesafdelingshoof in Sandton, Leah Potgieter, vra ‘n onafhanklike oudit van voorleggings deur die publiek en bevraagteken die egtheid van 100-duisend handtekeninge wat die voormalige burgemeester, Kabelo Gwamanda, voorgelê het. Sy beweer kritiese stemme is uitgesluit uit raadpleging:
# COPE vra dat verkiesingshervormings ingestel word wat party-oorheersing verminder, ware demokrasie bevorder en ‘n regering in staat stel om beter op kiesers se behoeftes te reageer. Die party het sy voorstelle aan die raadgewende paneel vir verkiesingshervorming voorgelê. Die paneel se opdrag is om moontlike hervormings aan die kiesstelsel onafhanklik te ondersoek, daaroor te beraadslaag en dan aanbevelings te doen. COPE se woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê hulle ondersteun die instelling van ʼn toekomstige elektroniese stemproses:
# Die man wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n tiener van Klawer in die Wes-Kaap in 2022, word Maandag gevonnis. Die betoë ter strafversagting en -verswaring van Daniel Smit is gister afgehandel in die Hooggeregshof wat in die buurdorp Vredendal sit. Die 58-jarige het vroeër skuld erken aan die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk. Sy regspan het gevra vir 30-jaar tronkstraf, maar die staat dring aan op lewenslank. Smit het die bakkie waarmee hy Jerobejin omgery het voor hy hom vermoor het, aan sy gesin aangebied as vergoeding.
# Botswana hou vandag sy algemene verkiesing, met die regerende Botswana Democratic Party wat sy bewind van 58 jaar probeer verleng. President Mokgweetsi Masisi hoop om vir ‘n tweede en laaste termyn verkies te word. Sy teenstanders in die presidentswedloop is Duma Boko van die hoofopposisieparty, Umbrella for Democratic Change, Dumelang Saleshando van die Botswana Congress Party en Mephato Reatile van die Botswana Patriotic Front. Volgens die land se Onafhanklike Verkiesingskommissie het net meer as ‘n miljoen mense geregistreer om te stem.
# Netbal: Die Proteas se nuwe hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê sy sien uit om uiteindelik haar termyn op dreef te kry. Kaptein Khanyisa Chawane sal Suid-Afrika aanvoer wanneer hulle van môre tot Sondag in Johannesburg teen Malawi te staan kom in ʼn reeks van drie toetse. Die Proteas is tans vyfde op die wêreldranglys en Malawi sewende. Van Dyk sê dis ‘n baie belangrike reeks vir hulle:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-452-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-782-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….