Nuus 09:00
BULLETIN 30 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Outa wil hê Godongwana moet aandag skenk aan die BBP-beskermingseenheid
# TLU SA sê die begroting is nutteloos sonder korrupsiebeheer
# En Trump sê Harris het nie wat dit verg om president te wees nie
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die stryd teen korrupsie voorop te stel in vandag se minibegroting. Die organisasie bepleit ‘n vermindering in besteding aan instellings wat nie kern-entiteite van die staat is nie en vra fondse moet herlei word na kritieke sektore soos die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, kritiseer buitensporige BBP-beskerming, terwyl die NVG-begroting nie tred hou met die toenemende uitdagings van korrupsie en georganiseerde misdaad nie.
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen gegewe die veranderde politieke klimaat, sal die middeltermynbegrotingsraamwerk waarskynlik klem plaas op ekonomiese groei en die skepping van ‘n stabiele omgewing vir sake. TLU SA se algemene bestuurder, Bennie van Zyl, sê veiligheid, asook vertroue in die land se ekonomiese stelsel, moet dringend aandag ontvang:
# Die polisie in die Oos-Kaap soek na vier mense in verband met die moord op ‘n 85-jarige vrou, Nonkosazana Manase. Sy is Vrydagnag in haar huis in Keiskammahoek vermoor terwyl sy geslaap het. Sy is vermoedelik verkrag voordat sy verwurg is. Die premier, Oscar Mabuyane, sê nog drie vroue is onlangs ook in Keiskammahoek vermoor:
# Oudpresident Donald Trump sê visepresident Kamala Harris het nie wat nodig is om president te wees nie en beskryf haar as ‘n verleentheid. Hy het ʼn verkiesingsaamtrek in Allentown, Pennsilvanië, gehou wat een van die state is wat die verkiesing se uitslag kan bepaal. Trump sê Amerikaners moet in die verkiesing besluit of hulle nog vier jaar van onbevoegdheid en mislukking wil hê, en of hulle die vier beste jare in die land se geskiedenis wil hê:
# Tennis: Die tweede gekeurde Carlos Alcaraz is deur na die derde ronde van die Parys-meesters en sit sy poging voort om vir die derde agtereenvolgende seisoen vyf of meer ATP-toertitels te buit. Die Spanjaard wat in die eerste ronde ʼn loslootjie gekry het, het Nicolas Jarry van Chili verslaan. Die Australiër Alex de Minaur het sy kans om vir die ATP-jaareindtoernooi te kwalifiseer, ʼn hupstoot gegee deur die Argentyn, Mariano Navone, in die eerste ronde te klop. Die sesde gekeurde Rus, Andrey Rublev, het teen Francisco Cerundolo van Argentinië verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-217-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-778-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….