Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra regeringsoptrede na die voedseltragedie in Soweto
# Krieket: Eersteling-honderdtalle vir Tony de Zorzi en Tristan Stubbs besorg aan die Proteas ‘n briljante begin in die tweede toets teen Bangladesj
# En, wetenskaplikes ontwikkel ‘n kopband sodat mense makliker aan die slaap kan raak
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee vra die regering om op te tree na die dood van ses kinders in Naledi, Soweto, as gevolg van besmette kos wat by ‘n spaza-winkel gekoop is. Die party sê hy bly verbind tot die bevordering van voedsel-veiligheidstandaarde en om toerekenbaarheid in kosvoorrraadkettings te verseker om weerlose gemeenskappe te beskerm. Sekretaris-generaal Fikile Mbaluka het meegevoel betuig met die betrokke gesinne, en die owerhede gevra om ondersoeke te bespoedig:
# Die suikerbedryf in Suid-Afrika het ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gedoen om sy 2023-begrotingsverbintenis na te kom en die gesondheidsbevorderingsheffing te hersien. Bedryfsverenigings het in ‘n ope brief gewaarsku hierdie heffing het reeds veroorsaak dat 16-duisend poste verlore gegaan het en verdere verliese word verwag. Hulle dring aan op raadpleging oor die heffing se ekonomiese en gesondheids-uitwerkings, en beklemtoon die bedreiging vir landelike lewensbestaan en voedselsekerheid. Die bedryf versoek ook ‘n moratorium op die heffing tot die raadplegings afgehandel is.
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, om beheer te neem oor die Vergoedingsfonds se rampspoedige situasie. Die DA vra ‘n ondersoek om vas te stel wat verkeerd geloop het en hoe honderde miljoene rand van werkers se geld verkwis is. Die DA-lid, Michael Bagraim, sê einde verlede jaar kon die fonds nie eens ‘n voorlegging vir die ouditeur-generaal lewer nie, en daar was geen gevolgebestuur nie.
# Krieket: Suid-Afrika het die tweede toets teen Bangladesj in Chattogram skitterend afgeskop en die eerste dag geëindig op 307 vir twee na eersteling-honderdtalle vir Tony de Zorzi en Tristan Stubbs. Kaptein Aiden Markram het die loot gewen en verkies om te kolf, en is uitgehaal vir 33 met die telling op 69. De Zorzi en Stubbs het daarna ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 201 lopies opgebou voor Stubbs geboul is vir 106. De Zorzi was onoorwonne op 141 toe swak sig spel vroeg gestaak het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-238-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Amerikaanse wetenskaplikes het ‘n kommersiële toestel ontwikkel vir mense wat sukkel om te slaap, sonder om hulle tot slaapmiddels te wend. Die span van Massachusetts Institute of Technology beskryf die uitvinding as ‘n kopband wat min ontwrigting veroorsaak en in werklikheid ‘n EKG is wat klankgolwe stuur om breinstreke beter te belyn om te kan slaap. GoodNewsNetwork berig ‘n klein studie het bevind mense wat gewoonlik sukkel, het 10 tot 15 minute vinniger aan die slaap geraak met die kopband, bekend as die Elemind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….