Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ACDP verwag Godongwana sal ‘n markvriendelike minibegroting lewer
# Rugby: Jordan Hendrikse vervang die beseerde Frans Malherbe in die Bok-groep
# En swendelaars steel meer as 24-ton fynproewerskaas by een van Brittanje se bekendste suiwelmaatskappye
# Die ACDP verwag die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal môre ‘n markvriendelike mediumtermynbegroting lewer, gegewe die positiewe sentiment wat die regering van nasionale eenheid opgewek het. ACDP se woordvoerder, Steve Swart, sê hoewel lae ekonomiese groei tot ‘n groot mate veroorsaak is deur voortdurende beurtkrag en ernstige uitdagings met logistiek, spoorweë sowel as hawens, word aktiewe stappe gedoen om hierdie kwessies op te los:
# Die Azanian People’s Organisation vra ‘n eenkamer-parlement en ‘n verbod op private skenkings aan politieke partye. Woordvoerder Jabu Rakwena sê die Raadplegingspaneel vir Verkiesingshervormings is tot stand gebring om kieswette te hersien in ooreenstemming met die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die instelling van onafhanklike kandidate magtig. Hy sê die publiek moet voor Donderdag se afsnydatum kommentaar indien:
# Leiers van die wêreld se grootste ekonomieë sal volgende jaar in die Goudstad saamtrek vir die jaarlikse G20-leiersberaad. Die adjunk-direkteur-generaal vir Openbare Diplomasie in die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Clayson Monyela, sê Johannesburg het Kaapstad en Durban getroef as moontlike gasheer. Die presidentskap en aanbiedingsregte van die G20 wissel jaarliks.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Springbokke, Rassie Erasmus, het die losskakel van die Haaie, Jordan Hendrikse, na die oefenkamp in Jersey opgeroep nadat die stut Frans Malherbe weens ʼn enkelbesering moes agterbly. Volgens Erasmus is daar genoeg diepte onder die stutte om Malherbe met ʼn agterspeler te vervang. Hendrikse is die broer van die Bok-skrumskakel, Jaden, en het sy enigste toets vir Suid-Afrika in Junie teen Wallis gespeel. Die Bokke speel op 10 November teen Skotland in Edinburgh, gevolg deur toetse teen Engeland op Twickenham en Wallis in Cardiff.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-216-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# Ten slotte: Swendelaars het meer as 24-ton fynproewerskaas by een van Brittanje se bekendste suiwelmaatskappye gesteel. Neal’s Yard Dairy in Londen is deur ʼn bedrieglike koper genader wat hom as ‘n wettige groothandelverspreider voorgedoen het. Die onderneming verskaf Britse en Ierse kaas van topgehalte aan winkels en restaurante reg oor die wêreld. Hulle het eers besef dis ʼn bedrogspul nadat die kaas aan die bedrieërs oorhandig is. Die beroemde sjef, Jamie Oliver, vra intussen sy miljoene volgelinge op sosiale media om op die uitkyk te wees vir spotgoedkoop fynproewerskaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….