Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Amerikaanse maatskappy, Boulder Imaging, het ‘n kunsmatige intelligensiestelsel bekend as IdentiFlight bekendgestel om voëls in die Oos-Kaap te beskerm teen botsings met windturbines. Die stelsel is tydens die Windaba-konferensie in Kaapstad uitgestal en het reeds voëlvrektes by ‘n windplaas in Amerika met 97-persent verminder. Kameras identifiseer en spoor die voëls op en stop turbines indien dit hulle bedreig. IdentiFlight se woordvoerder, Susan Downey, sê die hoë uitgawe is die moeite werd om sensitiewe spesies te beskerm, aangesien bewaringskwessies rondom hernubare energieprojekte ontwikkel.
# ‘n Groep wetenskaplikes waarsku oor ʼn moontlike katastrofiese ineenstorting van die Atlantiese Oseaan se seestrome. Dit beklemtoon die onderskatte gevaar wat dit vir Nordiese lande inhou. Die groep sê in ʼn ope brief aan die Nordiese Raad veranderings in die Atlantiese Meridionale Omkeersirkulasie is noodsaaklik vir Arktiese lewensomstandighede. Die Verenigde Nasies se tussen-regeringspaneel oor Klimaatsverandering sê die ineenstorting behoort nie voor 2100 te gebeur nie, maar wetenskaplikes sê volgens nuwe navorsing kan dit binne dekades plaasvind en ernstige gevolge inhou.
# En ten slotte: Konsentrasies van kweekhuisgas het in 2023 ‘n rekordvlak bereik. Die Wêreld-weerkunde-organisasie sê CO2-vlakke het 420 deeltjies per miljoen bereik, saam met metaan op een-duisend-934 deeltjies per miljard, en stikstofoksied teen 336,9 deeltjies per miljard. Die styging word volgens berigte vererger deur verhoogde vrystellings weens bosbrande en ‘n hoë verbruik van fossielbrandstof, tesame met ‘n laer koolstofopname deur woude. Die sekretaris-generaal van die organisasie, Celeste Saulo, het die dringende behoefte beklemtoon vir optrede om klimaatdoelwitte te bereik en het gewaarsku oor die ernstige gevolge van die stygende kweekhuisgasse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….