Nuus 08:00
BULLETIN 29 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Enoch Godongwana word versoek om op ekonomiese groei te fokus in die begroting
# Minister George vra meer geld om klimaatsverandering aan te pak
# En Israel verbied die VN-agentskap vir Palestynse Vlugtelinge
# Die GOOD-party het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gevra om sy verbintenis tot die regering van nasionale eenheid se doelwitte te bewys en voorkeur te gee aan inklusiewe ekonomiese groei wanneer hy Woensdag sy minibegroting lewer. Die party beklemtoon die behoefte aan geloofwaardige fiskale hervormings en waarsku teen verdere besnoeiings aan noodsaaklike dienste soos onderwys en gesondheid. GOOD wil hê die Maatskaplike Hulpverlenigings-toelaag moet omskep word in ‘n basiese inkomste-toelaag om groeiende armoede en lewenskoste teen te werk.
Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, doen intussen ‘n beroep op Godongwana om begrotingsbesnoeiings stop te sit, wat behuisingstoelaes en ander befondsing van armes van munisipaliteite raak. Die minibegrotig word môre ter tafel gelê en die burgemeester het Godongwana aangemoedig om voor die verklaring toelaes vir behuising en informele nedersetting-opgraderings te beskerm en infrastruktuurbefondsing te bevorder ter ondersteuning van lae-inkomste gemeenskappe. Hy sê hierdie fondse is noodsaaklik om die stad se groei te ondersteun en inwoners se lewensgehalte te verbeter:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, beklemtoon die behoefte aan meer voorspelbare en toeganklike befondsing teen klimaatsverandering. George het tydens die Nasionale Konsultasie met Belanghebbers gesê Suid-Afrika pleit vir ‘n nuwe jaarlikse globale klimaatfinansieringsteiken van 23-miljard-rand by COP29. Hy sê Suid-Afrika mik na nuwe finansiële modelle wat optrede teen ontkoling ondersteun:
# Israel se parlement het gestem om die VN se hulp- en werkagentskap vir Palestynse vlugtelinge wat noodsaaklike dienste aan die vlugtelinge bied, te verban. Die omstrede verbod kan die onderwys, voedsel, gesondheidsorg en lewensonderhoud van miljoene Palestyne raak wat daarop staatmaak. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het vroeër gewaarsku die wetgewing kan gevolge hê onder Amerikaanse wette en Amerikaanse beleid. Israel wil lank reeds die VN-liggaam ontbind en voer aan sommige van die werknemers het bande met Hamas en die skole leer kinders om Israel te haat.
# Sokker: Manchester United het afrigter Erik ten Hag na twee-en-‘n-half jaar in die pad gesteek. Die span het in 2023 die Carabao-beker verower en vroeër vanjaar die FA-beker, maar kon nie vir die Kampioeneliga kwalifiseer nie. Die Nederlander sukkel vanjaar en laat die span in die 14de plek in die Premierliga, hulle swakste wegspring in 35 jaar. United het gister 2-1 teen West Ham verloor in die Premierliga. Die legendariese voorspeler en hulpafrigter, Ruud van Nistelrooy, neem intussen waar terwyl die soektog na ʼn permanente afrigter begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-188-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-748-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….