Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verhoogde polisie-optrede volg te midde van toenemende kommer oor massaskietery en vuurwapengeweld
# Die SAPD keer meer as 900-duisend verdagtes binne 17 maande aan nadat misdaadbekamping verskerp is
# En, rugby: Rassie Erasmus is opgewonde om te sien wat Cameron Hanekom na die Bokgroep bring
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die toename in massaskietvoorvalle in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap vereis daadwerklike optrede. Masemola het op ‘n nuuskonferensie gesê omvattende reaksie is nodig om openbare veiligheid voorop te stel en die hoofoorsake van geweld aan te pak om hierdie kommerwekkende verwikkeling te bekamp. Hy verseker die publiek pogings word verskerp om die deurlopende bedreigings van vuurwapengeweld aan te pak:
Die polisie het in die 17 maande sedert Mei verlede jaar meer as 900-duisend verdagtes vasgetrek in hoëdigtheid-misdaadbekampingsoperasies. Die polisie beoog om sigbaarheid te verhoog en aktief te skakel met gemeenskappe om samewerking in die bekamping van misdaad te bevorder. Masemola sê ondanks uitdagings soos wapengeweld en massaskietery, pas die polisie sy strategieë aan om georganiseerde misdaad en die kwessie rondom onwettige vuurwapens aan te pak:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, het planne bevestig om die begunstigdes van behuising se rekords digitaal te maak en ‘n hersiening van behuisinglewering-prestasie aangekondig. Sy het teenoor die SABC kommer uitgespreek oor metro- en munisipale prestasie en die belangrikheid van die Wet op Verbruikersbeskerming beklemtoon om gehalte bouwerk te verseker. Kubayi het ook die vervolging van korrupte amptenare aangemoedig om geloofwaardigheid in die sektor te handhaaf:
# Rugby: Die hoofafrigter van die Springbokke, Rassie Erasmus, sê heelagter Damian Willemse se besering skep ‘n geleentheid vir die jong losvoorspeler van die Bulle, Cameron Hanekom, wat by die groep ingesluit is vir volgende maand se toer deur Europa. Willemse het ʼn liesbesering opgedoen tydens die Stormers se wedstryd teen die Glasgow Warriors in Stellenbosch. Hanekom kan sy debuut maak nadat hy vroeër deel was van die belyningskampe. Volgens Erasmus is hy opgewonde om te sien wat Hanekom tot die span kan toevoeg. Die Bokke speel volgende maand teen Skotland, Engeland en Wallis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-904-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Transnet se Nasionale Hawe-owerheid voorsien dat 268 plesiervaartuie vanjaar by sewe kommersiële hawens sal aandoen, ‘n toename van 29-persent teenoor verlede jaar se 207. Suid-Afrika se plesiervaartseisoen het verlede week afgeskop met die aankoms van die World Odyssey in Kaapstad, met 538 internasionale toeriste aan boord. Kaapstad sal 88 passasierskepe ontvang, met nog wat ook in Durban, Gqeberha en ander sal vasmeer. Die waarnemende uitvoerende hoof van die maatskappy, Phyllis Difeto, beklemtoon die plesiervaartbedryf se bydrae tot ekonomiese groei deur toerisme-inkomste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….