Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die passasiersbootbedryf in die Wes-Kaap het in die 2023/’24-seisoen 1,32-miljard-rand bygedra tot die provinsiale ekonomie, teenoor 1,2-miljard-rand die vorige seisoen. Die totale besteding deur vaartuie en passasiers het 1,5-miljard-rand beloop, terwyl een-duisend-en-96 voltydse gelykwaardige werksgeleenthede geskep is binne die passasiersboot- en toerismebedryf. Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die bedryf dien as meer as net ‘n hupstoot vir toerisme; dit is ‘n katalisator vir ‘n reeks ekonomiese bedrywighede.
# Die Suid-Afrikaanse seiljagvaarder, Vuyisile Jaca is benoem vir die Wêreld Seiljagvaarder van die Jaar op die 2024 Wêreld-seiljagvaarttoekennings. Die 25-jarige het aan die begin van die jaar geskiedenis gemaak toe sy deel was van ‘n vroue-bemanning om die Ocean Globe-wedvaart om die wêreld te wen. Jaca sê die benoeming op sigself voel soos ‘n oorwinning. Sy voeg by deur harde werk kan sy nog baie sukses in die bedryf behaal.
# Professor Grany Senyolo en doktor Mercy Sepadi van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie is gekies om aan die gesogte vroeë navorsingsloopbaanprogram van die Australië-Afrika Universiteitsnetwerk deel te neem. Die program help navorsers vroeg in hulle loopbane om met universiteite in Australië te skakel om idees uit te ruil en saam te werk op belangrike navorsingsprojekte wat globale kwessies takel. Die universiteit sê die program is ‘n gulde geleentheid vir akademici om vennootskappe te bou, nuwe vaardighede aan te leer en ‘n verskil te maak op internasionale vlak.
# Die derde en finale aflewering van Sony se Marvel anti-held-reeks Venom: The Last Dance, is bo aan Noord-Amerika se lokettreffers, en het die naweek sowat 903-miljoen-rand tydens sy openingsnaweek verdien. Tom Hardy is die ster in die rolprent as die ondersoekende joernalis Eddie Brock. Paramount en Temple Hill se Smile 2 het tot die tweede plek teruggesak terwyl nog ‘n nuwe vrystelling, Conclave met Ralph Fiennes in die hoofrol, op nommer drie geopen het. Universal en DreamWorks Animation se Wild Robot het tot die vierde plek teruggesak na sy vyfde naweek van vrystelling en A24 se We Live in Time is steeds in die vyfde plek.
# En ten slotte, ‘n Bongokalf, ook bekend as ‘n bos-eland, is in ‘n safaripark in Bedfordshire, Engeland, gebore – die eerste geboorte van die spesie daar in meer as tien jaar. Die bongo is een van die mees kritiek bedreigde diere op die planeet en daar is eenstemmigheid die geboorte in die Woburn-safaripark is ‘n groot sukses vir globale bewaringspogings. Die kalf se pa, Sonny, het verlede jaar by Woburn aangekom as deel van ‘n bedreigde spesiebestuursprogram. Die oostelike bergbongo word as kritiek-bedreig geklassifiseer met bevolkings wat drasties ly onder stropery en habitatverlies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….