Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier mense betaal skulderkenningsboetes vir die onwettige verkope van chemikalieë wat met voedselvergiftiging verbind word
# Die suikerbedryf vra ‘n moratorium op suikerbelasting om ekonomiese groei moontlik te maak
# En, krieket: Gary Kirsten bedank as Pakistan se beperkte boulbeurt-afrigter
# Vier mans wat aangekeer is vir die verkoop van onwettige chemikalieë in die Jabulani-winkelsentrum en in die sakekern van Johannesburg, is vrygelaat nadat hulle twee-duisend-rand skulderkenningsboetes betaal het. Dit volg nadat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, bevestig het ‘n organofosfaat, Terbufos, het vroeër hierdie maand die dood van ses leerders van Naledi in Soweto veroorsaak. Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, het bevestig daar sal nie hofverrigtinge wees nie:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die minister van Landbou, John Steenhuisen, versoek die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om sy openbare verbintenis tydens die begroting van 2023 gestand te doen, en aanpassings aan die heffing vir die bevordering van gesondheid aan te kondig. Albei ministers verteenwoordig ‘n aantal Suid-Afrikaanse bedryfsverenigings in die algehele suikerwaardeketting. Die heffing is in April 2018 ingestel. Daar was sedertdien geen bewyse dat die belasting lei tot betekenisvolle gesondheidsuitkomste soos verminderde diabetes of vetsug, of ‘n gesonder bevolking, nie.
# Die president van die Appèlhof, regter Mahube Molemela, het die regstelsel se verbintenis tot mediavryheid herbevestig op die jaarlikse fondsinsamelingsdinee van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteurforum. Molemela lig die regstelsel se rol uit as ‘n belangrike verdediger van die media en waarsku teen kuber-aanvalle, wat ‘n bedreiging vir die demokrasie inhou. Sy beklemtoon albei sektore het ondanks grondwetlike beskerming te doen met uitdagings weens waninligting op digitale platforms, en moedig mense aan om staat te maak op grondwetlike toevlug:
# Die minister in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, staan aan die hoof van ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na China van vandag tot Vrydag. Woordvoerder Litha Mpondwana sê die besoek is gemik op skakeling met bate-instellings in staatsbesit, wat goeie bestuurpraktyke bevorder. Hy sê dit steun die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings en fokus op die hervorming van staatsondernemings deur te leer uit China se ondervinding:
# Krieket: Die voormalige Protea-speler en -afrigter Gary Kirsten het bedank as Pakistan se beperkte boulbeurt-hoofafrigter. Die Pakistanse Krieketraad het hom in April aangestel op ‘n tweejaar-kontrak. Kirsten se groot taak was die mans T20 Wêreldbekertoernooi in die Wes-Indiese Eilande en Amerika, waar Pakistan vroeg uitgeskakel is nadat hulle verloor het teen Indië en Amerika. Toetsafrigter Jason Gillespie neem Kirsten se rol oor vir die toer deur Australië, wat volgende Maandag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-548-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-728-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….