Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die hoë koolstofuitlatings van die wêreld se rykste een-persent vererger hongersnood, armoede en oortollige sterftes. Dit blyk uit die jongste verslag deur Oxfam, wat gekyk het na die portefeuljes van die 50 rykste miljardêrs. Die verslag het bevind hulle is gemiddeld verantwoordelik vir meer koolstofuitlatings in minder as drie uur as die gemiddelde Britse persoon in hulle hele leeftyd. Oxfam sê byna 40-persent van die miljardêrs se aandeelhouding is in uitlating-intensiewe nywerhede soos olie, mynbou, skeepsvaart en sement.
# Die Afrika-unie sê sowat 30-persent van Afrika se woude is besig om vinnig te verdwyn weens onwettige uitkapping en houthandel. Afrika se tropiese reënwoude waar die meeste onwettige uitkapping voorkom, is die koolstofrykste ekostelsels wat tussen 150- en 300-ton koolstof per hektaar kan opgaar. Een die van ergste oortreders is die Demokratiese Republiek die Kongo waar meer as ‘n miljoen hektaar woude van 2010 tot 2020 jaarliks vernietig is. Dit is die derde hoogste koers van uitwissing in die wêreld na China en Brasilië.
# En ten slotte: ‘n Verreikende nuwe vennootskap tussen die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en die Europese Unie is van stapel gestuur op die Vergadering van die Konferensie van Partye tot die Konvensie oor Biologiese Verskeidenheid in Colombië. Die COLOURS-veldtog bied ‘n regverdige en billike reaksie op die uitdagings vir bioverskeidenheid deur te verseker dat die regte van landsburgers en plaaslike gemeenskappe beskerm word. Dit beloof sterk steun vir lande wat verbind is tot die bereiking van die doelwitte wat uiteengesit word in die Kunming-Montreal Globale Bioverskeidenheids-raamwerk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….