Nuus 08:00
BULLETIN 28 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC staar ‘n gesag- en geloofwaardigheidskrisis in die gesig
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie wil ‘n aksieplan hê om siviele eise te verminder
# En minister Lamola en sy Oekraïnse eweknie sal vandag ‘n ooreenkoms oor ‘n visumkwytskelding onderteken
# Die president van die ANC sê die party staar ‘n krisis van gesag, geloofwaardigheid en vertroue in die gesig. Hy het gisteraand die OR Tambo-gedenklesing in Ekurhuleni gelewer. Gister [Sondag] was die 107de herdenking van die verjaardag van die gestorwe voormalige ANC-president, Oliver Tambo, die party se langsdiende president. Ramaphosa sê selfs terwyl die regering van nasionale eenheid steeds vordering maak, is die verkiesingsuitslag ‘n harde les wat die ANC moet erken:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie doen ‘n beroep vir ‘n tasbare aksieplan om die aantal siviele eise teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens te verminder. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het verlede maand onthul die SAPD staar meer as vier-duisend siviele eise in die gesig vir onregmatige arrestasies en aanhoudings wat meer as 2,2-miljard-rand in die 2023/2024 boekjaar beloop het. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron sê die polisie moet lyfkameras as ‘n tegnologiese ingryping oorweeg om siviele sake te verminder.
# Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad het geweier om ‘n sertifikaat uit te reik aan die Suid-Afrikaanse Demokratiese Nasionale Onderwysersunie in die Wes-Kaap om voort te gaan met sy beplande staking. Die vakbond wou Woensdag betoog teen volgende jaar se beplande besnoeiing van twee-duisend-400 onderwysposte in die provinsie. Die arbeidsoptrede sou ooreenstem met die minister van Finansies Enoch Godongwana se Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring. Nedlac moedig Sadou aan om in gesprek te tree met die provinsiale Onderwysdepartement.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is vandag die gasheer vir sy Oekraïnse eweknie, Andrii Sybiha. Hulle sal ‘n ooreenkoms onderteken oor visa-kwytskeldings vir diplomatieke diens of amptelike paspoorte. Die presidensie sê die ooreenkoms sal Suid-Afrikaanse amptenare in staat stel om sonder probleme na Oekraïne te reis vir vredesvergaderings. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya sê dit deur sy neutraliteitsbeleid dat Suid-Afrika in staat is om opbouend met beide Rusland en Oekraïne te skakel:
# Motorsport: Carlos Sainz van Ferrari het die Mexikaanse Grand Prix gewen om sy vierde loopbaan-oorwinning in Formule Een te behaal. Lando Norris van McLaren het Max Verstappen van Red Bull se kampioenskapsvoorsprong tot 47 punte laat krimp en tweede geëindig met Sainz se spanmaat, Charles Leclerc, derde. Verstappen, wat twee twee-sekonde strawwe opgelê is weens twee bestuursvoorvalle teen Norris, was sesde. Sainz sê hy het dit nodig gehad om die wedren wen:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-862-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-733-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….