Nuus 07:00
BULLETIN 28 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC is vasbeslote om takke te stig wat nie gekaap is nie
# Tshwane evaar buitensporige hoë waterverbruik
# En Rusland se rentekoers is nou op sy hoogste vlak sedert 2003
# Die ANC president, Cyril Ramaphosa sê die party se hooffokus sal die verbetering van grondwerk wees om te verseker hy keer terug na sy hoofsending om die mense van Suid-Afrika te dien. Hy het die afsluitingstoespraak by die spesiale sitting van die ANC se nasionale uitvoerende komitee by die Birchwood-konferensiesentrum in Gauteng gelewer. Ramaphosa sê die NUK is vasberade om takke te stig wat polities gerig is en nie net sake wil doen of gekaap is vir individuele loopbaanbevordering of afdelingsbelange nie:
Ramaphosa, sê ook die party se NUK doen ‘n beroep op die regering om ‘n beleidsraamwerk oor spaza-winkels te finaliseer. Nege kinders is in Naledi, Soweto en in Mdantsane in die Oos-Kaap dood weens vermeende voedselvergiftiging. Ramaphosa sê die regering moet regulasies aanvaar vir die wettige bedryf van spaza winkels:
# Die waarnemende minister van Elektrisiteit en Energie, Patricia de Lille het die Billike Energie-oordragplatform in eMalahleni van stapel gestuur. Dit sal teen 2025 600-miljoen-rand se toelaes versprei aan 20 projekte, en 1,5-miljard-rand teen 2026. Die platform is ‘n skakel tussen internasionale toelaebefondsers en plaaslike bevoordeeldes, waaronder kleinsake, vakbonde en munisipaliteite. Met die aansoekpoort-webtuiste wat op 1 November bekendgestel word, wil die inisiatief Suid-Afrika se oorgang steun van steenkool na hernubare energie, terwyl dit gemeenskapsbemagtiging en ekonomiese diversifikasie bevorder.
# Die Stad Tshwane sê hy ondervind steeds buitensporige hoë waterverbruik wat verbruikers in die gevaar stel om tydens die somer geen water te hê nie. Rand Water pomp tans sowat 800-miljoen liter water per dag na Tshwane terwyl hy veronderstel is om 662-miljoen liter per dag te pomp. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê dit is sowat 18-persent meer as die metro se lisensie-ooreenkoms met die waternutsmaatskappy:
# Rusland se sentrale bank het rentekoerse tot 21-persent verhoog, wat beteken lenings-koste het tot die hoogste vlak in meer as twee dekades gestyg nadat Moskou se Oekraïne-offensief vinnige prysstygings tuis veroorsaak het. Die verhoging het koerse na hul hoogste vlak sedert 2003 gedryf. Die Kremlin gaan volgende jaar weer militêre besteding verhoog, ten spyte van die hoë inflasie en hoop in die Weste dat sanksies die Russiese ekonomie sal knou. Ontleders sê Moskou het genoeg geld om vir die afsienbare toekoms aan te hou veg in Oekraïne.
# Motorsport: Die heersende kampioen Francesco Bagnaia het die Thai MotoGP gewen om die gaping tussen hom en die kampioenskapsvoorloper, Jorge Martin, te vernou. Martin was tweede en die nuweling Pedro Acosta derde. Die Spanjaard, Martin, se voorsprong oor Bagnaia van Italië het van 22 punte tot 17 gekrimp met twee wedrenne oor. Brad Binder van Suid-Afrika het sesde gekom. Die oorblywende wedrenne is die Maleisiese en Valencia Grand Prix.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22 -rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-678-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….