Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se waardevolste bankgroep, FirstRand, het ‘n ernstige teruslag beleef nadat ‘n Britse hof bevind het dat hy onwettig kommissies aan motorhandelaars betaal het sonder kliënte se medewete. FirstRand moes reeds meer as 300-miljoen-rand aan regskoste bestee.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die 12-jarige Amoné Herbst van Bedfordview wat saam met haar gesin in ’n botsing reg van voor tussen Machadodorp en Mbombela in Mpumalanga was, weet nog nie haar hele gesin is dood nie. Haar ouers en drie susters het in die ongeluk omgekom.
En tweedens skryf die koerant oor die Wonderboom-lugskou in die noorde van Pretoria die afgelope naweek.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is ongelukkigheid in die MK-party oor die nuwe leierstruktuur.
En berig daar is ‘n beroep gedoen vir meer befondsing vir die huisvesting van geslagsgeweldslagoffers.
# Sowetan:
Berig die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekerheid en Skakeling het ‘n week gelede ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n taxi-patrolliemotor wat na bewering motoriste op die N4-hoofweg terroriseer. Daar is steeds geen vordering nie.
# En The Citizen:
Skryf die Britste regering het toegang geweier vir Mandla Mandela oor sy uitsprake oor Hamas en Hizbollah. Mandela sê die Britse regering steun apartheid-Israel en die volksmoord in Gaza.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor Nasionale Gesondheidsversekering wat dreig om die regering van nasionale eenheid te kelder. President Cyril Ramaphosa sê die sakegemeenskap is om insette gevra en voordat dit nie gebeur het nie, is die pad vorentoe onduidelik.
En dan skryf die koerant oor Willie Niemann van Boshof. Hy is ‘n buffelboer met ‘n aanstootlike nommerplaat. [Waarskuwing: DIKTRIL FS]
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die tweespalt oor Nasionale Gesondheidsversekering.
Dan word berig nog reën word vir vandag voorspel vir dele van die Wes- en Oos-Kaap.
En laastens is daar ‘n berig oor ‘n reuse-eikeboom wat twee voertuie in Dorpstraat in Stellenbosch te pletter geval het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die struwelinge in die MK-party oor die leierskap.
En berig ‘n man het ter nouer nood die aanval deur ‘n rob afgeweer. Die hulp van die Nasional Seereddingsinstituut is ingeroep om die probleem te hanteer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig mediese nooddienspersoneel in Nelson Mandelabaai het talle vakatures en is oorwerk, wat lei tot langer wagtye vir inwoners wat bystand benodig.
En tweedens skryf die koerant indien die rampbestuurspan van die Baaise munisipaliteit gehoor gegee het aan die aanbevelings van wyksraadslede, kon die ernstige gevolge van oorstromings in verskeie gebiede oor die stad vermy gewees het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Departement van Basiese Onderwys het kommer uitgepreek oor toenemende gevalle van voedselvergiftiging onder leerders, wat kinders se welstand raak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig inwoners wat vroeër vanjaar hul voertuie vir die registrasieveldtog van die Verkiesingskommissie van Namibië beskikbaar gestel het, kla hulle het maande later steeds nie al hul beloofde geld ontvang nie.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese polisie wag steeds op ‘n amptelike versoek van Suid-Afrika om teen die lekeprediker op te tree wat saam met sy dogter vermis word.