Nuus 13:00
BULLETIN 27 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile loof Mdladlana vir bydrae teen apartheid en die bevordering van arbeidsregte
# Minister Creecy is bekommerd oor die hoë finansieringskoste vir die taxibedryf
# En, motorsport: Sainz is in die voorste wegspringplek vir die Mexiko Stad Grand Prix, met Verstappen tweede
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die ontslape voormalige minister van Arbeid Membathisi Mdladlana geloof vir sy bydrae tot die stryd teen apartheid en die bevordering van arbeidsregte. Mdladlana, wat Suid-Afrika se langdienendste Arbeidsminister was, het onder vier presidente gewerk. Mashatile het op ‘n spesiale gedenkdiens gepraat en klem geplaas op Mdladlana se nalatenskap van veerkragtigheid, toewyding aan maatskaplike geregtigheid en die instelling van sleutel arbeidswette wat werkers se regte beskerm en nywerheidsgeskille verminder:
# Die minister van Vervoer Barbara Creecy het kommer uitgespreek oor die stygende voertuig-finansieringskoste vir die taxisektor. Sy het oor die taxi-herkapitaliseringsprogram met die nasionale uitvoerende komitee van die ANC gepraat en opgemerk die huidige skrappingstoelae is onvoldoende en onbekostigbaar. Creecy sê die model vir die program is nou verouderd. Sy wil met belanghebbers en finansiers praat oor volhoubare oplossings vir die sektor:
# Die verregse Nederlandse regering het ‘n stel streng nuwe asielmaatreëls aangekondig, insluitend die instel van grens-deursoekings en die verklaring van streke in die oorloggeteisterde Sirië as “veilige gebiede”. Premier Dick Schoof het die kabinet se planne op ‘n nuuskonferensie uiteengesit na dae van samesprekings tussen die regerende vierparty-koalisie onder aanvoering van die vurige Geert Wilders se Vryheidsparty. Die streng maatreëls sluit die grens-deursoekings soortgelyk aan Duitsland s’n in, die skrapping van onbepaalde verblyfpermitte vir vlugtelinge, en die verkorting van die vlugteling-permit van vyf na drie jaar.
# Motorsport: Carlos Sainz het die voorste wegspringposisie ingepalm vir vanaand se Mexiko Stad Grand Prix met ‘n indrukwekkende prestasie vir Ferrari in gister se kwalifiseerders, en Red Bull se verdedigende kampioen Max Verstappen die loef afgesteek. Die Spanjaard, wat die span aan die einde van die seisoen verlaat, het een-minuut en 15,946-sekondes aangeteken en die reeksvoorloper en driemalige kampioen Verstappen met 0,225-sekondes geklop. Lando Norris van McLaren is derde, voor Charles Leclerc in die tweede Ferrari, met George Russell van Williams vyfde. Die sewe-malige kampioen Lewis Hamilton neem die sesde plek in.
# En ten slotte: Die 107de verjaarsdag van die anti-apartheid revolusionêre leier, Oliver Tambo, word vandag herdenk. Hy het die ANC van 1967 tot 1991 gelei. Tambo het daarin geslaag om die ANC verenig te hou tydens sy 30-jaar verbanning onder apartheid. Bekend vir sy onselfsugtige leierskap, het hy persoonlike gerief opgeoffer en selfs toe daar kritiek was, aangebied om uit die ANC te bedank. Tambo was ‘n voorstander van vroueregte en het Suid-Afrikaners aangemoedig om apartheid onregeerbaar te maak. Hy is op 24 April 1993 na ‘n hartaanval oorlede, kort na die sluipmoord op Chris Hani.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….